Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
100 Dae
#1
As Kersgeskenk skryf ons toe in vir dié gratis pakket op internet – 100 Dae tot Gesondheid.
Waar dit by draf en kos kom, is ek ongeletterd, ongemaklik en omgekrap.
Maar nou knaag die ouderdom en manlief se algehele belangstelling oor gesond leef en eet kwaai en kry ek die lastige stem nie toegestop nie. Skryf toe nou sommer maar by voorbaat in vir dié gratis geskenk toe ek die e-pos eerste, vóór hom lees, want inskryf sou hy!

Al klaar is ek besig met die geveg in my kop van vryheid en lekkerte wat weggeneem gaan word – lekker koek saam met my tee soggens vir ontbyt. Ai, hoe onthou ek nie die dae tuis toe Ma altyd lekker koekies of melktert gebak het op ‘n Vrydag nie. Saterdagoggend word ‘n mens wakker, nog met die geur van tuisgebakte koekies van die vorige dag en die lekker vooruitsig van melktert saam met die eerste koppie koffie. Hierdie lekkerte het gebly sit – gee nie om vir die lekkerste vetterige spek, eiers en worsie-ontbyt of ‘n gesonde vrugteslaai en muesli-ontbyt nie. Koek is die lekkerste op die nugtermaag.
Die lekker warm speserysmaak van Glühwein en ‘n stukkie Duitse Stollen op ‘n koue aand in Desember – lekker ryk vrugtekoek met vet rooi kersies wat so kraak en ontplof in lekker soet wanneer jy dit raakbyt, en ai, die Ingelse se warm “Mince Pies with real butter” wat ons so met toeknyp-oë rondom Kerstyd by die Engelse winkel gaan koop want, dis mos invoergoed.
Pizza Hut is ‘n ander treffer wanneer ons met ‘n verjaarsdag rondom 12 uur middag daar ‘n draai gaan maak want dan kan jy eet soveel as jy wil vir die prys van een! Die lekker soutige smaak met die draderige, gesmelte kaas en een van Belgie se beroemde koue biere daarmee saam laat ‘n mens wonder hoekom sonde dan so olierig lekker is. Later die aand se gryp na ENO’s (die het ons saamgebring uit Vaderland) is nie ‘n swaar prys vir die nou brand, opstoot pizzasmaak nie.
Maar ‘n lekker koppie tee met volroommelk is my en Boet se swakte. Vergeet maar die kos, solank ek net ‘n lekker koppie tee, of 2, of 3 kan drink. Boet natuurlik drink ‘n beker vol op ‘n slag met 2 sakkies tee en ‘n halwe suikerpot suiker. Dan wonder ek hoekom ons nog ‘n Dolla in die huis het soos my skaduwee, wat maar eet en drink wat ek haar gee en nooit kla van honger nie, want sy kan nie praat nie. Sy drink ook net water..... om skielik deur die loop van die dag te onthou dat sy seker honger is want sy het dan nog net ‘n vrug vir ontbyt gehad! My probleem is dat ek van kleins af nooit eintlik honger was nie maar net soms lus was vir iets. Nou dit, kan manlief nie uitwerk nie – hy is altyd honger en weet nie die verskil tussen lus en honger nie. Vir my is honger, ‘moet eet om te leef’ en lus is, ‘leef om te eet’.
En dan woon ons ook nog in die sjokoladefabriek, België. Gelukkig is dié nou nie vir my so aanloklik nie, maar vir die res van die gesin is dit nie één sjokolade per dag nie, maar alles dadelik asof die fabriek gaan staak met produksie.
Wonder wat gaan word van gebakte skaapboud met stukkies spek, gebraaide aartappels en stroopsoet pampoenkoekies met Kersfees; lekker warm malvapoeding met vla en room?

So het ons toe maar gekalkoen met Kersfees en Nuwe Jaar geroomys - die laaste ete voor die teregstelling…..

Week 1: eet alles wat jy wil; drink alles wat jy wil; moet niks uitsny nie. Voeg by: groot glas water met opstaan, rondom 10 uur en voor 5 uur die middag; ‘n vrug voor 10 uur en ‘n kleinbordjie slaai voor middagete en aandete. Te héérlik en daarmee kan ek vrede maak.
Na die groot glas water wil die lekker tee voel soos té veel en ek moet ongemaklik baie toilet toe. Na die bordjie rou groente is ek amper nie eers meer lus vir lekker pasta of pastei nie.

Miskien sal die stryd op die ou end tot rus kom as ek weer vol energie kan wees en lekker kan slaap. Dis die waarborg waarvan gepraat word.
Dis seker soos die Brussel 20 km. padwedloop en manlief se liefde vir draf. Hy doen dit vir die lekker, sy kop skoon te kry, skepping te laat praat, oefening te kry, op sy eie te wees en uit te kom wanneer huis en grysheid hom wil toevou. Ek het ook maar steekserig begin met die drawwery (omdat die gewete gepraat het) want dit het alteveel gevoel soos stadige selfmoord, tot ná die Brussel 20 km. padwedloop! Ek het iets bereik, ‘n grens in my kop verbygesteek en beter gevoel! Nou is draf nie meer té sleg nie.
Ek het hoop vir dié 100 Dae.
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)