Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Aandenken aan
#1
Dis is maar ‘n tipiese Belgiese dag – koud en winderig toe ons half onseker die groot Katolieke Kerk op die markplein binnestap. Die roomkleurige lykswa staan voor die swaar houtdeur en my maag ruk binne in my - ruikers blomme by die deur lei ons na binne – ‘n vol kerk – die dorp kom neem afskeid van een van hul gesiene burgers – Georgette de Rom, “geboren te Kortenberg 25 januarie 1934”
Ons het haar leer ken as Mevrou Abeloos, die vrou van die eienaar van ons woonstelgebou. Toe ons gaan kontrak teken het vir ons woonstel, het die pruik die verhaal van swaarkry weggegee – ‘n jarelange stryd teen borskanker. Toe reeds het sy onuitgesproke vrese gehad oor ‘n kanker wat miskien weer opgevlam het. En nou kyk ons vas teen ‘n glimlaggende foto op die ligte kis – “en er thuis overleden op 31 oktober 2005”.
Die sedige gesig van die jong begrafnisondernemertjie verhelder toe ons in Protestantse onkunde onsekerheid laat blyk. Nee, sê hy, plaas maar net die hand op die kis en simpatiseer met die familie. Dankie, fluister ons verlig.
Die familie – elke gesig vertel ‘n eie storie van verwerking - klein oom Abeloos met hartseer lyne oor sy gesig, amper-uitdrukkinglose mansgesigte, half verwaarloos-, verwaaide hartseer vroue, en een met rooi, hartseer oë … - die enigste dogter. Ek kan net hand skud en sluk aan my eie trane – woorde is daar nie.
Die sang is soos engele wat almal opneem in aanbidding – vanaf Jesus wat voor in die kerk aan die kruis hang, op en op, verby die helderkleurige prentjievensters en deur die hoë koepelplafon – hemel toe …
‘n Kers word vir haar aangesteek – ‘n herinnering aan haar lewe. Iemand het gedig oor haar lewe van gasvryheid en liefde vir haar naaste … wonder of dit ooit aan haar gesê is toe sy nog met ons was? Ek wou nog gaan kuier … Dan gee die priester geleentheid vir belydenis van sondes …
Die reuk van wierook vul die kerk met ‘n warme teenwoordigheid – as ‘n huldeblyk aan haar. Ons tou ry vir ry vorentoe om ‘n laaste groet te bring. Elkeen kry ‘n foto van ‘n laggende Georgette in die hand – so sal ons haar onthou. Haar lewenskers word ten laaste uitgeblaas en sy mag in vrede gaan. Vir ‘n oomblik kon ons haar nog by ons hou!

Met yskoue voete stap ons agter die lykswa aan, deur die dorp, begraafplaas toe…’n Stil, donker stroom mense – elkeen besig om afskeid te neem op eie manier. ‘n Outydse prentjie in moderne klere.
Ja, op bykans dieselfde manier neem ons al eeue lank afskeid van geliefdes.
Reply
#2
... en al het jy baie keer totsiens gese, bly dit net nooit maklik nie.... 'n mens kan nie daarvoor oefen nie!

Dankie Hantam... dit voel of ons daar saam met julle was.

:daisy:
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)