03-07-2006, 06:25 AM
Cecille Cilliers
Dit word laat lig in die Kaap, en dit was nog taamlik donker en ek kwalik wakker toe ek die afgelope week Donderdag, dink ek, die vroeg-oggend nuus aanskakel. Om te hoor hoe iemand Â’n gesprek voer oor die Raffajees . . .
Vroegoggend is my radio gewoonlik op die Afrikaanse sender, maar die stem praat Engels – nie dat dit ongewoon is nie. Maar dis duidelik ook nie die eie taal nie. Bepaald iets oor Indië, gaap ek, of dalk ’n nuwe politieke party in KwaZulu-Natal.
Klink my nogal nodig, daar. Hulle roei mekaar al weer uit.
Maar toe blyk dit dat daar 35 000 raffajees in die Moederstad is, en ons burgemeester kom aan die woord om te vertel hoedat hierdie vlugtelingprobleem (saam met die reeds bestaande derduisende werklose Oos-Kapenaars en die steeds hawelose plaaslike bevolking) aangepak moet word. Die arme Helen Zille moet skielik ouerskap aanvaar vir al die Kaap se probleme, van vantevore en van nou.
Ek het respek, want sy sien kans, die ANC se deurlopende treiterbeleid ten spyt.
Vyf en dertig duisend ekstra mense in ’n stad waarvan die bronne – water, krag, maar ook paaie, behuising – daagliks dunner gesmeer moet word, is onhoudbaar baie. En dit is slegs die bloot praktiese aspek van die probleem. In Perth, in Australië, is daar nou ongeveer net soveel Suid-Afrikaners, en die owerhede raak bekommerd oor die invloed van so ’n groot groep mense, veral as hulle ’n homogene groep bly. Simon van der Stel het toentertyd die Franse onder die Hollandse burgers staangemaak sodat hulle hul taal en maniertjies sou afsweer – in ons tyd is dit nie meer so maklik nie. In Nieu Seeland is daar groot bekommernis oor die baie Suid-Afrikaners en hul (moontlik) rassistiese lewensbeskouing. In Perth is dit nie soseer die rassisme wat pla nie, maar die aggressie, waarvan die Australiërs genoeg het, baie dankie. Ek het een aand op straat gesien hoedat die polisie ’n klomp veglustiges uitmekaar moes maak, en deur die bloed kon ek sweer die helfte van hulle was convicts uit Engeland tweehonderd jaar gelede en die ander helfte uit die Transvaal ses jaar gelede.
Maar ons kultuurbydrae is gelukkig darem nie geheel en al afwesig nie – in elke slaghuis in Perth is daar boerewors te koop. Hier in die Moederstad maak mens saans by die teater ’n goeie indruk as jy ’n Bonsoir m’sieu teenoor die motorwag kan bemeester. En miskien Comment ça va ? Hulle kom almal uit die Noorde, Frans is hul huistaal. By ’n geselligheid nou die aand is Afrika-kos bedien – hoender en grondboontjies, vis in ’n rissiesous. En die Djembetromme neem saans in die nagklubs oor. In Hillbrow, verstaan ek, is die omgangstaal nou Frans.
Die wêreld het inderdaad ’n global village geword, met ’n deurlopend verskuiwende bevolking. En Suid-Afrika is skynbaar die droombestemming van die ganse Afrika.
Maar waar moet dit eindig? Kaapstad sluk maar swaar. In die somer pryk daar steeds motorplakkers wat die ‘Vaalies ve*rseker dat Kaapstad hulle liefhet: but now please go home!
Wat nou nog van die Kongolese, die Burundese, die Rwandese, die Angolese, en die Nigeriërs?