Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Blouwillemaandag:
#1
[COLOR="Purple"]

Ou Helgard Muller het eendag daar in die middel tagtigerjare as ’n jong outjie, ná hulle die nasionale klubtoernooi daar onder in Durban gewen het, saam met die ander kringetjie gemaak in die kleedkamer en toe so mooi opreg gebid : “Liewe Vader, help ons asseblief dat ons nie windgat raak nie.” Uit die diepte van sy hart uit. En dis nou hoe ek ook vra na dááái wen oor die Ingelse. Want die versoeking is baie groot om nou erg opgeblase te word. Baie groot!

Oom Johnny sê die enigste keer wat die spul Bleekbene vir hom gelyk het of hulle die wedstryd kan wen, was met die laaste vers van “ God Save the Queen” toe hulle daai glorious en victorious draaie gevang het. “Nee kyk manne, ons het Vrydagaand elke groot nederlaag in die Anglo-Boere-Wêreldoorlog gewreek. Generaal Piet Cronje se pak by Paardeberg, Marthinus Prinsloo en sy manne se nederlaag by Brandwaterkom, die slag van Elandslaagste en Talana, noem maar op! Ek sê jou, as ons nog so twee drieë ekstra kon druk was my ouma in die konsentrasiekamp in Bloemfontein en haar susters in Brandfort ook gewreek. My groot vrees is net dat ons manne nou daar in Gay Paris so gaan uitrafel met hul meisies dat ons teen volgende Vrydagaand ’n soekgeselskap gendarmes sal moet uitstuur om vyftien manne bymekaar te skraap om teen Tongaat te speel.”

Sjoe, maar hét ons vir jou gees gevang Vrydagaand! Duisende van ons daar op die Wilgies se rugbyveld saam met De la Rey van Blerk en Leeuloop Wessels, hand op die hart met “Ons vir jou Suid-Afrika”. Omtrent my lekkerste dag by die skool sedert 1969 en ook die eerste keer dat ek sonder vrees vir vervolging by die skool ’n bier of twee kon drink, ’n rokie maak en nog dans ook! (onthou, in 1969 was lyfstraf nog soos jakkalsjag, ’n verpligte skoolsport). Nee wat, skool is nou baie lekkerder as daai tyd!

Ek het dié week eers besef hoe baie tye verander het, toe ek deur Seun se rekordeksamenvraestelle geblaai het. Nee kyk, dis nie ons jare se vrae nie! Vat nou die wiskunde as voorbeeld : “ ‘n Taxi-eienaar het ’n 12-sitplek minibus, maar om ongerief vir die passasiers te verminder, laai hy nooit meer as 23 passasiers op nie.

**Veronderstel elke passasier weeg gemiddeld 85 kilogram en laai 35 kilogram bagasie op die dak en die bestuurder ry gemiddeld 140km per uur en sy remme is 25% effektief, wat sal sy stopafstand wees?” En nog wiskunde: “As een Tshwane-vullishouer vyf swart sakke bevat, hoeveel ekstra asblikke en tydelike vuillisse is nodig om twee en ’n halwe weke se agterstand met vullisverwydering uit te wis?” Of die biologie : “Die Rietvleidam rietpadda se geslagsorgane is groter as dié van ’n Vaaldamslak (waar of vals?)”. En geskiedenis : “Noem die laaste twee Suid-Afrikaanse ministers van gesondheid wat nie ’n kriminele rekord gehad het nie.” Ja, en dan wil Cosas nog hê die onderwysdepartement moet dié jaar die eindeksamen se vraestelle vooraf aan die matrieks beskikbaar stel! (Doen hulle dit nie in elk geval elke jaar nie?)

Nou ja, vuilis of vullis, ek weet nie meer nie, maar al wat ek weet is dat dit laat in die nag is as die asblikke vir ons begin blaf in die honde se plek! Dik Daan wou hierdie week Bethulie in die Vrystaat toe ry om sy ou vuilis te gaan aflaai, maar toe weier sy mos om in te klim!

[/COLOR]

** Nou wonder ek hoe waar dit is

Bron: Blou Willem - Die Beeld
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)