Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Brood en kaas en 'n oomblik van die hemel
#1
Beeld-deurloop:

Cecile Cilliers



:hartlik: Nou kom die Kaap se mooi dae. Terwyl ons met bekommerde harte reikhalsend uitsien na die koms van die eerste, dae lange deurdringende reën - o, dis droog, dróóg hier in die Kaap! - geniet ons intussen hierdie stil, blou-en-goue dae, die laaste van die somer.

En ons ry Franschhoek se kant toe om hulle te vier.
Daar was baie reklame vir die Suid-Afrikaanse Kaasfees op die vrugteplaas Bien Donné in die Simondium-omgewing: 'n Verskeidenheid kaas sonder weerga, gekomplementeer deur wyn en fynproewersprodukte, belowe 'n ongeëwenaarde fees.

En as verdere lokaas word die name van bekende kokke met resepte en demonstrasies op die spyskaart geplaas: Topsi Venter, Nataniël, Barbara Joubert, Reuben Riffel - noem maar op.

Maar ons was nie op pad kookdemonstrasies toe nie.

Ons het deur die herfslandskap gery om te gaan kaas proe.
Die jaar word ryp in goue akkerblare, in wingerd wat verbruin, skryf Van Wyk Louw. Maar dis nie bruin wat ons langs die pad, teen die heuwels en tot doer ver op die horison sien nie. Dis geel en donkerrooi, met vlamme van oranje.
En oor die bont, intieme land skap die stil blou lug.

Daar was baie mense en ons moes vér stap van die geparkeerde motor tot by die ingang van die skouterrein.

Daar's baie jong mense, die meisies vrolik in kuitbroeke en ligte hempies, daar's ouers met kinders, daar's middeljariges soos ons.

Natuurlik middeljarig. Op 'n dag soos vandag is daar nie bejaardes nie.
In die groot uitstaltent is dit warm en luidrugtig - almal beur om die kaas te sien en te proe en om klein mondjiesvol wyn in proeglase te laat skink - maar dieselfde gemoedelikheid heers. Volslae vreemdelinge deel 'n grappie of 'n oordeel oor die kaas, gee vir mekaar glasies aan om wyn te laat skink.

Ek verwonder my aan die verskeidenheid kase en kosse wat beskikbaar is en aan die gehalte daarvan. Sjokolade na die Belgiese aard word op Greyton vervaardig; duur, maar droomlekker. Olywe word op allerlei manier ingemaak, met suurlemoenskil en knoffel, rissie en marjolein, of glinsterswart net in olie. Die groot verskeidenheid olyfolies terg die tong met vrugtige, ryk geure en soms 'n effense bitter nasmaak. Die bitterheid, verseker die maker my, beteken dit sal járe hou.

Nie in mý huis nie, lag ek.

Uit Swellendam se wêreld kom die braam- en youngbessieprodukte, klein potjies konfyt en flesse likeur gegeur met rooibos, heuning, vinkel.
Die mense proe en koop en proe en koop.

En dan is daar die kaas. Sowat van 'n rykdom van soorte en smake en behalwe by 'n stalletjie of twee met ingevoerde kaas uit Holland of Engeland is alles plaaslik en héérlik. My hart swel van trots: dis onse mense en onse mense se produkte dié.

Met 'n bottel wyn en 'n brood onder die arm, 'n kaas of twee, drie, 'n bakkie olywe en 'n flessie konfyt gaan sit ons op stoele onder 'n akkerboom wat verkleur en sny vir ons met 'n knipmes brood en kaas - en 'n oomblik van die hemel.

En toe is daar 'n vriendelike man met 'n trekker en 'n sleepwa om ons moeë lywe (skielik bejaard is ons) motor toe te vat.
Dis mooi nou, in die Kaap. Baie mooi. :hartlik:
Reply


Possibly Related Threads...
Thread Author Replies Views Last Post
  Openbarende oomblik..... Pronkertjie 0 3,270 23-06-2005, 07:33 PM
Last Post: Pronkertjie

Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)