Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Cecile Cilliers Rubriek
#1
Beeld-deurloop: Koesterend in die sagte nat is die verlange stil
Cecile Cilliers

:hartlik: Dis hoekom ek drie jaar gelede Kaap toe getrek het, dink ek, oor hierdie Kaapse weer. Dis grys buite, en die misreën hang in slierte oor die baai en oor die berg, en sak in vlae uit oor die omgewing totdat die swart teerstrate blink van die nat en die gras teen die hange van die voetheuwels die oë seermaak met sy groen.

Dis die weer van my jeug, lank agtergelaat tydens my 41 jaar lange verblyf in Johannesburg - op die Hoëveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien, / (Die ylblou bring 'n knop dan in jou keel) - maar die verlange na die grys, die nat, is nooit heeltemal uitgewis nie.

Ek het lank moes bly verlang, want hier in die Wes-Kaap was die reëntjies maar suinig, die af gelope drie, vier jaar.

Die damme is leeg, die water min. Selfs nou nog stort ek met 'n emmertjie aan my sy dat die oorloop nie alles verlore gaan nie. En alhoewel ek hier nooit (dankbaar) die Hoëveldse Augustusmaand se skurwe hande, skrynerige vel, en die droë koue wat seer op neus en lip kom lê, ervaar het nie - dit moet die klam seeklimaat wees - het ek reikhalsend uitgesien na die nat.

En nou reën dit in die Kaap, en dit lyk nie asof dit reën nie, jy hoor niks, daar's geen spatsels op die teer buite my huis nie, maar wanneer ek in die tuin uitstap, stuif dit teen my wange, teen my bril, adem ek die klam.

Vir drie dinge moet jy versigtig wees, het Ouma Victor altyd gewaarsku, drie goed wat nie vertrou kan word nie, en een daarvan was motreën, want jy besef te laat dat jy besig is om baie nat te word.

Hoe geniet ek dit om só nat te word, so onbewus, so koesterend.
In my verlange na die reën het ek van die wind vergeet. Dis die Noordwes wat waai, en hy bring die reën en daarom verduur ek hom, maar hy's 'n rukkerige, wispelturige wind.

Hy pluk aan die vensters, laat die deure klap, en laas nag het hy deurnag my slaapkamerdeur laat tokke-tok, tokke-tok, totdat ek tot in my drome loop soek het vir die besoeker wat so knaend toegang soek.

Dit was stellig met verwysing na die Noordwestewind dat EP Groenewald (Bybelvertaler) se vrou gekla het: Op Gordonsbaai waai die wind al in die rondte . . .

En hy jaag die see op, die wind. Die weervoorspellers waarsku van deinings hoër as 5 m, golwe hoër as my huis

Ek klim in my motor en die reën ten spyt ry ek Kaappunt toe, eet daar my middagbroodjie en kyk vanuit die knusheid van die kar hoedat die golwe hulleself tot skuimende sproei op die rotse verniel.

Kyk ook hoedat die wind die avontuurlustige toeriste tot 'n mengelmoes van klere en hare verwaai, en geniet van die geweld, koester dit so van ver af, totdat 'n bobbejaan sy verskyning maak.

Vir Kees had ek nie lus nie, toe kom ek maar weer huis toe.
Op my stoep hurk druipnat 'n viertal rooivlerkspreeus.
Dis mooi weer in Gauteng, vertel ou vriende wanneer ek skakel, en ek kry heimwee na die stil dae en die loom son - mits jy uit die kloue van die ysige Junie-wind kan bly.

Hier is dit nie moontlik nie.

Die wind is 'n magtige teenwoordigheid.
Waag jy dit buite, tel hy jou op en frommel jou deurmekaar, maar o, die stilte wanneer hy gaan lê, en die innige troos van die suisende reën. :hartlik:
Reply
#2
Aaah, sooo lieflik beskryf !!!! :wings:

Gisteraand by die huis gekom en die elektrisiteit was af, sommer die hele dorp s'n - by kerslig hout opgestapel en 'n vuurtjie in die kaggel brand gemaak, 'n glas rooiwyn geskink, mmmhhhh, ek's terug !!!

Loeiende Noordwes te spyt, niks beter as die sagte grysheid van 'n nat winter innie Kaap nie ..............
:cloud9:
Reply
#3
Almitra Wrote:Aaah, sooo lieflik beskryf !!!! :wings:

Gisteraand by die huis gekom en die elektrisiteit was af, sommer die hele dorp s'n - by kerslig hout opgestapel en 'n vuurtjie in die kaggel brand gemaak, 'n glas rooiwyn geskink, mmmhhhh, ek's terug !!!

Loeiende Noordwes te spyt, niks beter as die sagte grysheid van 'n nat winter innie Kaap nie ..............
:cloud9:

Welkom terug Almitra! Smile
Reply
#4
Tx, :daisy:
Reply


Possibly Related Threads...
Thread Author Replies Views Last Post
  Cecile Cilliers Rubriek Pronkertjie 1 3,510 03-06-2005, 07:31 PM
Last Post: Joan
  Cecile Cilliers Rubriek Pronkertjie 1 3,657 12-03-2005, 03:31 PM
Last Post: hantam
  Beeld Rubriek Pronkertjie 4 4,541 23-10-2004, 07:54 PM
Last Post: Joan
  Cecile Cilliers Rubriek Pronkertjie 0 2,685 Less than 1 minute ago
Last Post:
  Cecille Cilliers Rubriek Pronkertjie 0 3,349 Less than 1 minute ago
Last Post:
  Cecile Cilliers Rubriek Pronkertjie 0 2,971 Less than 1 minute ago
Last Post:
  Beeld Rubriek Pronkertjie 0 3,298 Less than 1 minute ago
Last Post:

Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)