Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Dans Van Ons Suster
#1
Sy loer skelm; ver anderkant die aanloopbaan; haar oë skaam en sy lag saggies – mens moet mooi luister om te onderskei tussen haar lag en die bulder dreunlag van die vliegtuie…
Sy wink, haar armbande blink en haar krale skitter
Sy nooi die winde uit vir die dans - die bruilofsfees!

Die buurtannie trek die rolluike voor die vensters dig, nes Ouma gemaak het in stormweer – deure, vensters, gordyne en spieëls moes toe. Sy klop nou en dan aan die deelmuur na die bure toe, net om seker te maak sy is nie alleen in die storm nie.
Die volgende dag kyk ons onbegrypend na mekaar wanneer sy verlig gesels oor die groot storm van gisteaand!
Óns het geslaap.

Vir my Afrikaanman in België, is die reën ‘n lastigheid, ‘n grys kombers van depressie wat nat-swaar hang en maar nie wil droog word nie …
Ons verlang na die jaag van die grootwild uit die Namibvlakte, stowwerig maal op die bulttop, neusgate wyd gerek om die reën te ruik in die wind, nederig hoofde gebuig voor haar fyn spore op die sand …
Die reuk van stof en reën gemeng soos die druppels plof in die stof!
Die veld sug dankbaar voor ons Suster wat eindelik gekom het!

Op ‘n dag in Windhoek, Namibië, hoor ons die sleep van haar voete oor die grond …
Die jong Ovamboman storm by almal verby, by die agterdeur uit en begin luidrugtig die bruilofsdans dans totdat hy blinknat van die reën is. Hy hou aan dans tot die poele modder word en ons lag en klap saam oor dié bruilof wat groot is op hierdie wye, dankbare werf.

Maar, wanneer haar krale skud en koperringe blink en sy van die hoogte aftrap met die vuurpluim op haar voorkop, wil ons soos die kleinvolk diep onder die grond wegkruip voor die vuur van haar dans. Dit raak ‘n wilde gedraai en geswaai en ‘n getrommel van voete soos die hoendereier-haelkorrels op die sinkdak van die kleuterskool in Hammanskraal neeslaan. Glas meng in fyn skerwe met die reënvlae soos die vensters die een na die ander breek onder die krag en passie van haar dans. Binne ‘n paar minute is alles verby en breek die warm van die son deur en alles drup, drup verlig na haar verwoestende verbydans. Die skade is groot – mense, vensters, motors, huise …

Wanneer sy die vaal karos met altwee arms uitsprei en die asem van die wind wegraak, dans manlief en boeta kaallyf onder die stroom water van die geut op die hoek van die huis – hulle lag en snak van koue reënplesier!
Ek sit met my beker tee en drink op die mooi bruilofsfees in die dennebome oor die straat, diamante teen die ruit met die missleep van haar rok wat verbywaai Â…
En ek sug.
O, die dans van my Suster!

Die Dans Van Die Reën – Eugene N. Marais
Reply
#2
Ai Hantam.... ek onthou daardie reendans so goed - ons het darem almal oopmond daar gestaan en hom aangestaar! Wat 'n belewenis!

:bunch:
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)