Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Die lewe is 'n lied - as die pap nie koud is...
#1
02/02/2005
Beeld-deurloop:
Die lewe 'n lied - as die pap nie koud is
Deur Cecile Cilliers
Maandag sit ek op die stoep, salig op die stoep, want voor my lê die berg helder in die sonskyn, daar's nog 'n vroemôre koelte in die lug en ek het 'n skotteltjie pap op my skoot.
Eet wat jy wil vir ontbyt, het oom Martin altoos beveel, maar sorg dat daar 'n onderbou van graankos is.
Boksgoed kan gaan as daar 'n nood is, maar eintlik moet dit pap wees. En hawermout kan ook nog gaan, maar eintlik moet dit mieliepap wees.
Mieliepap sit murg in 'n man se pype, en vorm 'n basis vir die vleis en eiers wat dalkies nog kom.
Mens raak vreeslik fiemiesrig as jy ouer word en alleen woon. Ek eet nie vroegoggend proteïen nie, maar ek hou by oom Martin se voorskrif, want ek is lief vir ontbyt en lief vir pap.
Enige pap, en dit sluit boksgoed ook in, maar dit moet darem lyf hê, nie daardie windvlokkies nie. Hulle lê kwalik 'n halfuur in jou maag of hulle soek geselskap.
Pap hou 'n man tot twaalfuur toe. En daarby is pap trooskos. Staan maar met die verkeerde voet uit die bed uit op - 'n bordjie pap en die wêreld kry weer vorm.
Eet dit met melk en suiker, of met 'n klont botter, of (o, 'n wonderlike aangeleerde smaak) sonder suiker maar met room en 'n klein proeseltjie ekstra sout.
Dis hoe die Skotte smôrens hulle hawermout eet; saans gooi hulle whisky en suiker ook by en sit dit as nagereg voor.
Oats, skryf Samuel Johnson in sy woordeboek van die Engelse taal, is a grain which in England is generally given to horses, but in Scotland supports the people.
Nes mieliepap. Soms sal die Engelse ewe deftig 'n mondjievol mielies van die stronk af eet, maar vir ons is mieliepap stapelvoedsel, elke dag se brekfiskos.
Ek maak Woensdae mieliepap wanneer Christina Lobese kom - om vir een mens 'n pot mieliepap te kook, werk nie so waffers nie.
En koue oorskietpap moet vir honde uitgekrap word en ek het nie honde nie.
Die Italianers eet ook mieliepap, polenta, noem hulle dit, en as daar oorskiet is, sny hulle dit in repe, doop dit in eier en broodkrummels en braai dit in vet.
In Texas staan sodanige gebraaide papstroke as Hush Puppies bekend: terwyl Bush se manne om die vleisbraaivure staan en die honde huil omdat dit so lekker ruik, word hulle met die papstroke stilgemaak.
Toe my vriend Louis Wolhuter jare gelede die eerste keer in die Deep South van die VSA was, het hy gevra om die plaaslike kos te eet. Toe bring hulle vir hom catfish and hominy grits - pap en babers.
Ek kan nie onthou of hy teleurgesteld was of gehuil het van verlange na Wes-Transvaal nie.
Sit ek toe op die stoep met my skotteltjie pap - sonder melk maar met 'n handvol rosyne daarin. En die lewe is 'n lied.
En toe lui die telefoon.
Daar is 'n Peanuts-strokie van Linus wat melk op sy graanvlokkies gooi en dan te laat besef hy't niks om te lees by die eet nie. Terwyl hy naarstiglik soek, word sy skotteltjie troos papsag - nat koerantpapier.
So sit ek langs die telefoon en kyk hoedat my pap kouer word, koud, en eindelik stol, voordat die langasemkriek tot siens gesê kry.
En die son verdwyn en Maandag word blou!
Reply
#2
Ai, van mieliepap gepraat! Hoe mis ek dit nou want die geel mieliemeel wat ons hier kry verteenwoordig net die son. Die kuns is om dit nie soos gom te kry nie .. net nie dieselfde as Afrikaanse boere mieliepap nie!
Reply
#3
hantam Wrote:Ai, van mieliepap gepraat! Hoe mis ek dit nou want die geel mieliemeel wat ons hier kry verteenwoordig net die son. Die kuns is om dit nie soos gom te kry nie .. net nie dieselfde as Afrikaanse boere mieliepap nie!


Ag nee Hantam.... nou maak jy my sommer lus vir sulke lekker stywe mieliepap wat lekker lank gekook het! En natuurlik braaivleis wat daarmee saam gaan! Regte Transvaal se kos Smile

:daisy:
Reply


Possibly Related Threads...
Thread Author Replies Views Last Post
  Die lewe is soos 'n kombers oe-la-la 0 2,612 Less than 1 minute ago
Last Post:

Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)