Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Die wereld om ons...
#1
:music: Die wêreld om ons: Deur 'n kameralens word 'n geheim ontrafel
deur Neels Jackson (Beeld Rubriek)

Voëlkykers, sou 'n mens amper kon sê, kom in verskillende spesies.
Een soort is die twitchers. Dis die mense wat tyd en geld bestee net om te kan sê dat hulle 'n sekere voël gesien het. Só het ek en nog drie ouens vroeër vanjaar vir 'n dag Durban toe en terug gery om die verdwaalde Heuglinse meeu in die hawe te sien. Dié voël kom gewoonlik nie verder suid as Oos-Afrika voor nie.

'n Bietjie minder ekstreem is diegene wat na voëls kyk om hul lysies langer te maak. Dit kan 'n leeftydlys wees of 'n jaarlys of 'n woonbuurtlys . . .
Daar is 'n eindelose aantal lysies wat voëlkykers kan maak. Uit dié oogpunt is die groot doel om nog 'n regmerkie op jou lysie te maak.

Die hoogtepunt van enige voëlkykuitstappie is dan om 'n lifer te kry - 'n voël wat jy nog nooit gesien het nie en wat jy op jou leeftydlys kan afmerk.
'n Ander soort voëlkyk wat besig is om pos te vat, is wat ek "sensusvoëlkyk" wil noem. Die oogmerk hiervan is wetenskaplik: om 'n goeie aanduiding te probeer kry van watter voëls op water plekke voorkom.

Daar is ernstige voëlkykers wat baie moeite hiermee doen. Hulle werk met kaarte wat in blokke verdeel word en werk die omgewing blok vir blok deur om te bepaal watter voëls waar voorkom.

Die afgelope tyd het ek ook weer op 'n ander manier voëls na gekyk. Dis nou wanneer 'n mens stil sit en 'n ruk lank net kyk hoe een spesifieke voël hom gedra.

In my geval was dit 'n swart suikerbekkie en die doel was om 'n goeie foto van hom te kry.

As die blikskater maar 'n bietjie langer wou stilsit, sou ek ook nie so baie tyd aan hom afgestaan het nie.

Maar nee, hy fladder hier, wip daar, kruip halfpad agter 'n blom weg en woerts dan weer weg. Ek het die afgelope maand of wat ure agter in my tuin deur gebring in 'n poging om 'n mooi suikerbekkiefoto te kry.

Wat 'n frustrasie kon wees, het vir my 'n heerlike ontdekking geword. Die swart suikerbekkie met sy pers keel en groen kroon (as die lig reg val) is 'n bekende in my tuin. Ek het gedink ek ken hom, maar ek het baie geleer.
Ek was byvoorbeeld verbaas oor hoe dikwels hy onderstebo hang aan 'n tak of 'n draad pleks van bo-op sit.

Ek het ook nooit voorheen besef hoe beskermend so 'n mannetjie oor sy aalwynblomme kan wees nie. Van sy uitkykplek bo in die soetdoring hou hy die wêreld dop en bewaar die arme witpenssuikerbekkie wat daar wil kom nektar steel.

Ek kan hom nou nêrens meer gaan afmerk nie, maar deur die ure se dophou het die hiperaktiewe swart suikerbekkie in my tuin soos 'n ou vriend geword.
Dit het my ook weer laat besef dat 'n mens nie moet verval in een manier van voëlkyk nie, maar dat die verskillende maniere mekaar aanvul en verryk.

Só goed het ek die suikerbekkie leer ken dat ek selfs, terwyl ek deur die lens vir hom loer, die geheim ontrafel het waarom dié ou liewer hang as om te sit.
Iewers het hy sy regterpoot verloor. Waar daardie vaskloutoontjies moet wees, sit net 'n stompie.

Nadat ek dit raakgesien het, was dit vir my opvallend hoe hy soms sukkel om sy balans te kry wanneer hy wel bo-op 'n tak gaan sit. :music:

:daisy:
Reply


Possibly Related Threads...
Thread Author Replies Views Last Post
  'n Hele nuwe wereld... Surita 2 4,573 29-07-2006, 07:24 PM
Last Post: Pronkertjie

Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)