Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Elk van ons kan 'n olyfboom van hoop plant
#1

Cecillie Cilliers

Confusedue:

Die afgelope week het ek aan die gewoel en gewerskaf van elke dag ontsnap en vir 'n kort twee dae die stilte gaan opsoek. Goedgedacht is 'n konferensiesentrum en 'n plek van gebed - die kapel staan op 'n hoogte, onder jou lê die koringlande van die Swartland uitgesprei in vlakke van bruin en goud, ver anderkant die heuwels verrys Tafelberg, 'n vertroostende baken.
Dit was mooi daar. En stil. Maar doodstil was dit nie. Daar was die gekraai van kapokhaantjies en die veraf gedreun van trekkers op die land, en saans, in die koelte buite op die stoep, kon mens die kinderstemme hoor wat inkom van 'n lang middag se buite speel, en die ma's se vermanende bevele om te bad en is die huiswerk klaar? En soms die dieper stemme van mans op pad huis toe: Naand, sus Dora, en hoe's dit by julle? Altyd goed, dankie Bêrend ! Ditsem, sus Dora! En dan weer die stilte.

Die Goedgedacht Trust is in die vroeë 1990's in die lewe geroep om die verskriklike armoede onder onbekende plaaswerkers en hulle families in hierdie streek te bekamp. Letterlik onbekende, want dis gesiglose plaaswerkers: meer as die helfte van die kinders is nooit by geboorte geregistreer nie, baie volwassenes besit nog steeds geen identiteitsdokumente nie.
Met werk, beter behuising, beter skoling, word daar stadig maar seker weggebeitel aan armoede, maar meer nog, word daar gebou aan die selfrespek van mense wat in so baie opsigte werklik agtergebly het.

Die trust het baie aspekte: Behalwe die konferensiesentrum en die spiritualiteitsprogramme, behels dit ook die Goedgedacht-forum vir sosiale nadenke. Beleidskeppers, invloedryke nuusmakers en politici van verskillende oortuigings kom elke tweede maand hier in die stilte bymekaar om dringende kwessies deur en uit te praat. Die Goedgedacht landbou-hulpsentrum voorsien kleinboere van noodsaaklike raad en hulp. Goedgedacht het ook kontak met belangstellende buitelanders wat nie net 'n geldelike bydrae maak nie, maar jong mense na Goedgedacht stuur om daar hulle volle gewig agter praktiese projekte te gooi.

Maar die hart van die trust se werk en visie is die lewensbelangrike Olyfpad-uit-armoede- uit-projek. Van die olyfbome in die Goedgedacht Olyf-(vredes) boord kom die olywe en olyfolie waarvan die inkomste al die ander projekte moet finansier.

Maar die Op Pop-program soos dit bekend staan, is meer as net 'n finansiële projek. Dit is 'n opheffingsprojek. In die program word kinders gevoed en in voorskoolse programme opgeneem, jong mense word die geleentheid gegee om in sportspanne te speel, pa's en ma's word verantwoordelike ouerskap geleer, individuele groentetuine word aangelê, onderlinge ondersteuning vir vigs en teringlyers word georganiseer en aangemoedig, en gesonde spirituele waardes gekweek. Met die olyfpad uit armoede word die plattelandse kind in die groter Swartlandstreek na 'n beter lewe gelei.

Ek het Goedgedacht toe gegaan vir 'n paar dae se stilte, ek het baie, baie meer ontvang. Bokant die grys loof van die olyfboorde hang daar die beeld van 'n beter, mooier Suid-Afrika as die een wat ons tans bewoon, en dis geen lugspieëling nie. Dinge kán beter word, beter wéés, as ons, elkeen van ons, maar die olyfbome van hoop wil plant.

Confusedue:
Reply
#2
Klink na 'n besondere plek en sal dit graag wil besoek op 'n keer. Die Swartland is reeds 'n plek van bekoring. Klink na net die plek vir rus en hoop - goete wat ons deesdae meer en meer nodig het.
Besondere projek. :thumbs:
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)