Thread Rating:
  • 1 Vote(s) - 5 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Gij bent Familie
#1
Sy is besig om die sypaadjie voor die huis te vee.
“Gij bent familie van mijn man!” beduie die krom rumatiekvingertjie toe ek en Dolla aangestap kom.
“Hoe heet jouw man?” wil die klein gryskopvroutjie met die voorskoot en die besem in die hand weet.
Toe sy hoor hoe manlief heet, is ons toe nou nié meer familie nie en praat sy verder oor die man wat al jare oorlede is, die vreeslike ryk mense in die straat en die kinders wat kom kuier. En ons moet kom kyk na haar blomtuin in die somer…..

Toe ons wegstap, beduie ek met my nog-nie-rumatiek vinger na Dolla, “Gij bent familie” en sy lag oopmond opgewonde asof sy heeltemal saamstem en verstaan; sleep-sleep die skoenpunte oor die sypaadjie en lag hard oor die snaaksigheid – weet nie waarheen ons oppad is nie, maar dat ons oppad is en sy kan almal langs die pad groet, is waaroor dit nóú gaan. Só leef ons met haar, vir die lekkertes van nóú en hiér, dat ons sáám kan loop, maak nie saak of dit winkel of veld toe is nie. En al is my vinger eendag knopperig van die rumatiek, sal sy áltyd familie wees vir die genotvolle, eenvoudige oomblike van die lewe in die nóú.

Tuis gekom, wuif ek vir manlief met die vinger, “Gij bent familie”, toe hy die deur oopmaak. In die 22 jaar kan ek steeds sê hy is my beste vriend, hiérdie man wat positief na die lewe kyk en dit wil beleef en ervaar in sy volheid. Soggens met die radio wat vroegdag se nuus deur die huis weergalm, spring hy onder ‘n koue stort in, somer én winter, om yskoud en tintelend die dag in te juig. Dan sweer ek, “Gij bent geen familie” wanneer ek ‘n goeie halwe oggend nodig het om deur die slaaplae te blaai en die dagson stil-stil tegemoet te gaan met ‘n beker tee. Skoonpa is ook só met die 6 uur oggendnuus waarna almal moet saamluister of dit nou werkstyd of vakansietyd is – maar daarna gaan sit hy op die stoepie met sy pyp en ou Brakkieshond om te luister na die opstaan van die voëls. Nou net dáár kan ons familie wees!

Menige dag het ek tranerig gesweer 16 jarige Boet is “jóú familie” as ons vir die soveelste keer in die skoolhoof se kantoor moes staan en luister na al die domdinge wat my familie nóóit sal doen nie! So het hy ook al die vinger vir my geswaai en gesê, “Gij bent geen familie” as ek meer kritiseer as bemoedig en hy die deur beslis toeklap om daarna sy vriendefamilie te gaan opsoek waar almal cool en aanvaarbaar is. Te stadigaan leer ek van luister en probeer verstaan – maar ai, ‘n mens wil tog so graag familie uitlê.

Ma sal áltyd familie wees.
En so ook Sus. Op skool het ons maar te dikwels die nie-familie vinger katterig vir mekaar geswaai, maar nou is sy die een wat altyd bemoedig te midde van haar eie swaarkry. Vra altyd wat ek doen wat kreatief en lekker is. En groet met, “Kyk tog na jouself want niemand anders gaan dit vir jou doen nie.”

En dan is daar Pa.
Met sy vlammende humeur het ek in my hart groot geword met ’n besliste, “Gij bent geen familie” tot ek self deur eie humeur verbrand word tot ‘n ashoop van skaamte, in die wete, “Gij bent familie”. Familie word uitgewys met ‘n krom vinger – ‘n herkenning van dieselfde.

Die familie is nie altyd mooi nie, soms maar onafgerond en skeef. Hoe lekker sou dit nie wees om familie met die vinger uit te kies nie, “Gij bent familie” en “Gij bent geen familie!”
Maar nouja, so kan ons hulle ook nie kies nie. Moet maar vat wat kom en probeer om ‘n mooi familiekiekie te maak of anders gesels oor die blomme in die tuin.
Reply
#2
[COLOR="Purple"]Uitstaande Hantam! So waar. Die Afrikaanse spreekwoord van "Jy kan jou vriende kies maar nie jou familie nie" is so waar!

:bunch:[/COLOR]
Reply
#3
Ek het geglimlag so reg deur die lesery...ons spot ook altyd wie se familie wie wil ken en wie nie! lol Big Grin
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)