Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Hart vir Afrika
#1
Ons blaai die ander dag in ‘n winkeltjie in Jeffreysbaai deur die prag fotoboek, Chack Chic van Craig Fraser… Die eenvoud van die huisies en sy mense en die kreatiwiteit van ‘n fotograaf saamgevat in ‘n pragboek. Nou, hier in Europa, vind ek ‘n artikel oor die volgende een, Mud Chic … Absolute moet-hê-boeke oor ons land! Vir ‘n oomblik wonder ek waarheen die geld gegaan het – na die fotograaf of die inwoners wat die storie is…

Rooikop, Duitse Suzanne van my taalklas, se hartsbegeerte is om Suid-Afrika te besoek – veral ‘Kaapstadt und Stellenbosch’. Maar, vra sy, is dit so, dat die verskil tussen ryk en slums so opsigtelik en bymekaar is? Want, sê sy, dit wil sy nie sien nie want sy kan dit nie hanteer nie – dis onaanvaarbaar.

Manlief kyk nou een aand ‘n program op T.V. oor Afrika en verlang dan intens na sy land en sy mense,
en ek wonder waar staan ék …

Saam met die kunstenaar met ‘n kamera in die hand om die kuns in armoede vas te lê vir die wêreld om te bewonder en pryse uit te loof vir die foto van die jaar?
Spog oor die mooi en kontras van ons land wanneer vriende kom koffie drink? Die koper sonsondergange, die vryheid van koedoe en kameelperd in die doringbosse van Limpopo, majestieeuse Tafelberg met die blouselblou see van Bloubergstrand wat rustig en skuimend uitrol op die strand, die heksberg wat waghou oor die wingerde van die Heksriviervallei?
Staan my en verwonder oor die stem van Afrika wat ritmies sing sonder blik of snaar en die aardse kreatiwiteit van draad en krale om ‘n bestaan te maak.

Óf roer die berg vol witkruise verteenwoordigend van elke plaasmoord my?
Voel ek die onseker, bangbravade van toegesluite mense in my eie hart roer wanneer ons ons kans afwag in die ry vir besoekers by Pollsmoor gevangenis om ‘n vriend te besoek?
Kry ek ‘n naarword op die krop van my maag wanneer ek hoor van ‘n vriendin se dogter wat verkrag is oppad terug vanaf ‘n fliek.
Proe ek die wrang smaak van onregverdigheid wanneer vriende voedsel vir hul ouers in Zimbabwe moet neem terwyl die hoof van die land en sy vrou kan koop wat hulle wil.
Sien ek my kinders in die boepenskindertjies met dorstige oogvlieë wat soos moesies hang en maer geraamtes van kinders wat slap hang in lappe omdat daar nie kos is nie.
Ruik ek die nat van hare gemeng met bloed van ‘n skietwond of ‘n bylkap in ongevalle.

Na watter Afrika verlang ék?
Is ek bereid om my verfynde “brother and sister from Africa” hier in Europa te verruil vir die soms sukkelende, vuil, gevaarlike, arm, “brother and sister from Africa” en saam te gaan inskuif en oorleef in die chack sonder die chic en hoop in die ou bord te skep en te drink uit die beker van Lewe.
Is ek bereid om àlles te verloor, van dag tot dag te lewe en te gee wat ek nie het nie.

Néé, want ek het nog soveel om te verloor!
Reply


Possibly Related Threads...
Thread Author Replies Views Last Post
  Afrika in Aldi hantam 1 3,519 04-06-2005, 05:58 PM
Last Post: Pronkertjie
  Afrika moet Suid-Afrikaners se 'home' wees Pronkertjie 1 3,841 12-03-2005, 03:14 PM
Last Post: hantam
  Suid-Afrika na Drie Jaar hantam 0 3,878 Less than 1 minute ago
Last Post:

Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)