Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Hermansburgse Dennebome
#1
‘n Elektriese boomsaag huil-kla al die heel dag agter die blou ysterhekke met die geroesde ketting en slot wat nooit oop of toegemaak word nie. Die dennebome val die een na die ander... Die reuk van varsgesaagde dennehout laat my dink aan die Hermansburgse denneplantasies waar ons amper elke tweede naweek by Oupa en Ouma gaan kuier het.

Met kronkels en draaie loop die grondpad deur die donker misterieeuse bos, oor die treinspoor en dan onverwags ontbloot die bos sy hart in die klein dorpie met saagmeule, klubsaal, tennisbane, paar rye huise en die slaghuis wat rustig bak in die son.
Ouma-hulle het naby die slaghuis gebly, langs die Duitse tannie wat lekker Butter kuchen kon bak en die Engelse oor die straat met tienerkinders, rooikop John en swartkop Vandy. Vir ons het hulle klaar groot gelyk wanneer hulle Vrydaemiddae uit die skoolbus klim met streepbaadjies en dasse en skooltasse wat skeef trek van al die boeke.

Oom Hennie met die vriendelike blou oë en tannie Isobel met tweeling Reinette en Annette het altyd in hulle ou Jeep by Ouma-hulle kom kuier. Tannie Isobel het altyd gelag deur die kruldraai rook van haar sigaret en vertel van “tan” in die son. Dan trek sy stadig die velle van haar bobene in sulke lang repe af – amper soos met chappies kougom. Jy blaas stadig om te kyk hoe groot jy die borrel kan maak voor hy klap – so trek sy die velle stadig een vir een af om te kyk hoe groot dit kan word voordat hulle skeur en sy hulle sorgvuldig in sulke klein bolletjies oprol en in die asbakkie gooi langs haar sigaretstompies.
Reinette en Annette het vir my nooit soos ‘n tweeling gelyk nie, die een lig en blond met blou oë en die ander, donker hare en oë en ‘n bolletjielyf. Op ‘n dag het ons vir hulle gaan kuier in die hospitaal want tannie Isobel het haar een nier vir Annette gegee omdat háár niere nie normaal gefunksioneer het nie.

Bedags het ons die dennebome se naaldhare in sulke klein vlegseltjies gevleg en taai dennebolle opgetel vir die aand se kaggelvuur. Oupa se groot geel Labradorhond, Snip, was altyd by. Oupa het ook ‘n aarbeituintjie gehad met sulke groot rooi aarbeie wat wulps onder die groen blare uitgesteek het – ons kon nie wag om te sien wie die grootste een kon kry nie. Op die hoek van die huis was die ou groot sement reënwatertenk met Ouma se bleeding-heart fusia by die kraan. Daar het Ouma altyd wasgoed uitgespoel in die groot sinkbad met die blouselblou water waaruit sy spierwit klere gehaal het - kon nóóit verstaan hoe dit werk nie! Die wasgoedpaal was ‘n swaai vir ons en oom Pietie. Elkeen kon homself swaaimaak aan die arms en moes dan los en spring. Die een wat die verste spring, het gewen. Met dieselfde paalswaai het ek toe my arm bokant die elmboog gebreek toe ek gegly het met die springslag. Hulle het my tot by die tennisbane hoor skreeu, vertel Mammie. Omdat daar nie ‘n dokter op Hermansburg was nie, moes ek met my arm gespalk in een van Mammie se syserpies, terugry huistoe – amper 2 ure se ry daarvandaan.

Winter het dit vroeg donker geword oor die bosdorpie en sy mense en ons moes vroeg inkom want teen vyfuur het die mis met sulke vlae ingerol gekom. Die slaghuis se kragopwekker het dan met ‘n getjok-tjok-tjok aangegaan en in die huise het die ligte lui-lui wakker geword. Dan was dit badtyd en die kaggel in die sitkamer is brandgemaak met dennestompe.

Die geweeklaag van die handsaag raak stil wanneer die mistigheid oor die dennebome agter die blou hek kom lê.
Ek hoop my Hermansburgse dennebome in België oorleef vir nog ‘n seisoen van misterie en herinnering voordat hulle ook brandhout word vir die kaggel.
Reply
#2
Ek kan die dennebome sommer ruik!!

Dankie hoor!!

:bunch:
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)