Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Is Manie die padbouer gelukkiger as ek?
#1
[COLOR="Navy"]Blouwillemaandag: Die Beeld

As ’n ou in ’n groot stad soos Tshwanetoria bly, verloor jy maklik ’n bietjie perspektief op die lewe. Ons flenter rond tussen ons ryk vriende se Toskaanse huise in hul banggatdorpies vol gholfkarretjies en ons dink dis hoe dit maar moet wees, maar dan op ’n mooi aand sit jy ver in die Karoo en jy wonder oor baie dinge.

Soos laas Woensdagaand daar by Carlton-hoogte in Noupoort se wêreld toe ek sit en kyk na die sterre en na ’n vuur met dik stompe, luister na die ritsel van populiere in die aandwindjie, luister na die lorries daar ver op die PE-pad en luister na Manie die padbouer wat vir my vertel van padbou en dat hy die vierde beste “grader”-operateur in die Vrystaat is.

En toe wonder ek hoe bepaal mens wie die vierde beste “grader”-operateur in die Vrystaat is. Hou hulle proewe of wat? En toe begin ek wonder oor baie ander dinge waaroor ek altyd wonder, maar nie regtig in die stad tyd het om goed oor te wonder nie.

Ek wonder toe byvoorbeeld hoekom mens nie ryp avokado’s kry nie maar altyd ekstra moet betaal vir rypes wat soos dwelms onder die toonbank opgetower word. Wie eet die groenes? Dan wonder ek ook hoekom hulle sakkies braaihout verkoop sonder enige dun stukkies om die vuur mee te “start”. Hoe moet mens die vleis gaar kry met ’n vuurhoutjie, ’n bolletjie koerantpapier en ’n helse boom? En as jy nog ’n nuwe byl koop, kom jy agter die ding word stomp verkoop. Hoekom, dis mos nie ’n kinderspeelding nie, ek wil hout met hom kap?!

Toe wonder ek ook hoekom poskantore/banke/tolhekke altyd agt bedieningspunte het waarvan net twee beman of bevrou word. Wat doen hulle by die ander ses? Of hoekom troues so woes duur is as huwelike so goedkoop geword het. En hoekom hulle ’n lewenspolis ’n lewenspolis noem en nie ’n doodspolis nie? Nie eers oor my dooie liggaam kan iemand vir my daai een verduidelik nie! En wat was fout met Wit Jakkals en die wiskunde waarmee ons in die ou dae kernfisici, hartchirurge en brugbouers grootgemaak het?

Toe wonder ek ook daar in die Karoo hoekom ’n dokter ’n prokureur R500 betaal om vir jou ’n brief met ’n R2,50- seël op te stuur om vir jou te sê jy skuld die dokter nou al 600 dae 48 sent. En hoekom ek belasting vir die polisie moet betaal as die veiligheidsfirma my oppas. Hoekom word onderbroeke en kouse deesdae altyd in pakke van drie verkoop waarvan hoogstens een vir jou mooi is? En toe wonder ek ook of hulle spesiaal klerke by binnelandse sake werf wat van nature onvriendelik is.

Vertel hulle tydens die keuring vir hulle 100 grappe en as hulle vir meer as drie lag, kry hulle nie die “jop” nie?

Ek weet nie, ek vra net.

Ag, en dan was daar nog baie vrae wat deur my kop gemaal het saam met die suising van die populiere. Hoekom word ’n ronde pizza in ’n vierkantige boks afgelewer? Hoekom het broodroosters ’n stelling wat brood pikswart brand as niemand dit so eet nie? Hoekom betaal mense om in torings op te gaan en geld in verkykers te gooi om daarmee grond toe te kyk waar hulle nou net vandaan gekom het? Ek weet nie. En ek weet ook nie hoe om ’n “grader” te bestuur nie.

En ek weet ook nie of ek juis gelukkiger in die groot stad is as ou Manie op sy “grader” daar in die Karoo nie.[/COLOR]
Reply
#2
Ja Pronkertjie, ons sal seker nog lank wonder oor al die dinge


Dankie vir 'n baie mooi (askies... ek ken nie die Afrikaanse term vir ) posting



Ek kan net sien hoe pragtig die Karroo nag is , met helder sterre en mens kan lank en diep sit en dink aan baie dinge daar.
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)