23-04-2005, 06:23 PM
Cecile Cilliers
Was jare laas daar, maar toe die vliegtuig sy laaste draai vat voordat hy op Schiphol neerstryk en die klein, plat, waterryke landjie onder my oopvou, kom versreëls van Elisabeth Eybers my onweerstaanbaar in die gedagte:
'n helder lasprent sorgsaam uitgesoek,
reghoekig, ewewydig, vak aan vak
gemeet, geplan, gepas en ingeplak.
Holland is onmiddellik herkenbaar. Die helder lasprent is nie net groen nie. Die lente in Europa (en ag, hoe mooi, hoe stadig wissel die seisoene daar, elke blom, elke boom kry van bot die volle pond), die lente verf die effe veld met breë stroke van geel affodille, gestreepte vlae van pienk en pers hiasinte, wye aanloopbane van gloeiende, rooi tulpe. Maar al die roekelose kleur is ordelik, georden, netjies: gemeet, geplan, gepas en ingeplak.
Saam met my jong gasheer en gasvrou stap ek deur die Saterdagoggendstrate van Leiden, koop kaas en vleis en brood by winkels wat elkeen presies dÃÂt verkoop - óf kaas óf vleis óf brood.
Sondag ry ons Keukenhof toe en ek verwonder my aan die reusepark vol water en blomme en berkebome blink van die eerste groen. Alles is so goed gereël, die paaie en die parkering, die kaartjieloket, die oop ruimtes en die klein koffiewinkeltjies. Net 'n roofvoël wat ná 'n vertoning waartydens hy en sy makkers op bevel vir die skare gevlieg en geduik het, sit mokkig hoog bo in 'n boom en weier enige versoek of bevel om terug te keer.
Die halsstarrige valk was die enigste teken van opstand wat ek gesien het. Elke hond op straat is aan 'n leiband en ge dienstig stap elke eienaar met 'n plastieksakkie in die hand in geval van 'n hondeglipsie. Die land is netjies, georden, skoon.
Maar my jong gasvrou stop my 'n vrouetydskrif in die hand wat 'n deur oopmaak op 'n ander Holland. In November verlede jaar is Theo van Gogh vermoor - ja, verlangse familie van Vincent, en ons het die Van Gogh- museum in Amsterdam gaan besoek.
Van Gogh was 'n ondersoekende verslaggewer (nogal ver na regs) wat selfs in 'n land waar spraak baie vry is, dikwels aanstoot gegee het. En toe hy in 'n artikel smalend na Allah verwys, is hy wreedaardig doodgemaak. Die jong Moslem wat dit gedoen het, is gou in hegtenis geneem, maar die Hollanders is uit hul rus geruk.
Hollanders is in die war, beweer die tydskrif, hulle vrees vir hulle nasionale identiteit . . . Die hele uitgawe word aan die moontlikheid van integrasie gewy, om tot die gevolgtrekking te kom dat integrasie met 'n bevol king wat oor dekades aangesterk is met mense uit Suriname en Turkye, uit Noord- en selfs Wes- Afrika, tog nie moontlik is nie. Maar, vra hulle, is 'n rustige naasbestaan dan onmoontlik? Moet die wette op vrye spraak dalk strenger gemaak word?
Of moet Islam verbied word?
Nee, dit natuurlik nie, maar waar Islamitiese skole in die lewe geroep word, word daarna verwys as die "swart" skole . . .
Onder die ordelikheid wat Holland is, kook dit.
En dit laat my wonder. Is daar onder die volslae gebrek aan orde in hierdie land tog iets wat ons aanmekaar knoop, iets wat ons, ten spyte van ons verskille én die wanorde, rustig met mekaar laat saamwoon?
Mog 't treffe, zeg ik!
:daisy: