02-05-2006, 03:20 PM
Cecille Cilliers
Timothy is Michael se jongste, en 'n stewige vier, amper vyf. As ek nou familie mag uitlê - ja, ek weet, dis 'n hebbelikheid van die Kapenaars, en myne geërf van 'n ma wat altyd alles wou weet : En van watter Heynse is jy nou eintlik? Vryers is vroeg afgeskrik, tensy hulle kon bewys dat hulle van die Paarlse Du Toit's was, en waar kry jy dié in die Transvaal?
Ewentwil. Michael is aangetroude familie van my, eintlik baie aangetroud: hy is die seun van een van my susters se tweede man by dié se eerste vrou. Omdat bogenoemde swaer verjaar, het sy seun van Johannesburg Kaap toe gevlieg vir sy pa se verjaardag, 'n gewaardeerde gebaar.
Sit ons toe Sondagaand aan by 'n verjaardagtafel van kaas en brood, en drink rooiwyn daarby ter wille van die heildronk, en Michael word deur die aanwesiges (vernaamlik sy pa) aangepor om te vertel hoe dit met die kleingoed by die huis gaan. Oupa se hart hang aan die klein Timothy, wat 'n verbasende groot stem het vir sy lyfie, en graag die wors eet wat oupa op die kole braai.
Wors, Oupa, dankie, Oupa, is soet woorde vir 'n grootvader.
Die vader van Timothy vat 'n sluk rooiwyn en begin vertel.
Teen die muur van sy eetkamer, sê hy, staan daar 'n wynrak baie soos dié van sy pa. Die bottels lê ook so bek vorentoe ingerye. Ná Valentynsdag, vertel hy, is die huis vol van daardie ditjies en datjies wat as oulike gebare aan verliefdes geskenk word ter wille van die seisoen - 'n Amerikaanse gewoonte.
Dit klink asof Michael daarop wil uitbrei, maar hy is 'n besadigde man, en hy laat dit liewer daar. Een van hierdie goetertjies was 'n Valentynshart op 'n stokkie wat 'n bloemiste goed gedink het om tussen die rose in te steek wat hy vir Timothy se ma bestel het, en Timothy het dit sy eie gemaak.
Die punt was taamlik skerp, maar nie gevaarlik nie, en dit kon as 'n swaard dien of 'n spies of 'n lamppaal of enige deel van die spel waarmee Timothy besig was.
Maar in die wynrak kry hy toe 'n uitsonderlike uitdaging. Deur te druk en harder te druk, kry hy sy spies deur die metaaldekseltjie van 'n bottel wyn gesteek, druk nog harder, en woeps, daar druk hy die kurk in die bottel in. En nie alte vinnig nie, maar darem, begin die wyn op die mat uit te gorrel. Timothy weet goed wanneer dinge verkeerd geloop het. Hy stop sy wapen/werktuig doodluiters onder die wynrak in, en gaan bed toe, net soos sy ma hom 'n halfuur gelede al beveel het.
Toe Michael die volgende oggend in die eetkamer kom, is daar 'n groot raaisel. Wyn op die vloer, kurk binne-in die bottel. Wat kon daar gebeur het?
Toe die waarheid uitkom, is daar met Timothy taamlik hard gepraat, maar dis Michael se pa wat die kritieke vraag vra: Watse wyn was dit ?
Ja, sê Michael, hy moet erken, Timothy skyn sy oupa se goeie smaak te hê: Dit was 'n bottel Château Lafitte 1961.
Kortasem sê ek, Timothy kos vir jou geld. Nee, sê hy, dis my dogter. Wys ek haar nou die dag hoe die Suid-Afrikaanse muntstukke lyk en wat hulle werd is, toe sit die sesjarige 'n vingertjie op die 50c- stuk. Ek ken hóm, sê sy. Hy lyk nes die een wat ek Saterdag ingesluk het.
Op Vryheidsdag is ek dankbaar vir die bevryding van kinders grootmaak.
Beeld Deurloop