Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Kry jou spoed reg
#1
Kry jou spoed reg



Om onsself dood te jaag, het ‘n leefstyl geword. Dis gevaarlik. En boonop teen God se wil.



Hier’s ‘n paar maniere om jou leefspoed in pas met God te kry:





a. Bepaal jou prioriteite. Maak ‘n lysie van die belangrikste dinge in jou lewe. As jy ‘n Christen is, dan moet God se Naam heel-bo aan verskyn. Sorg dat jy elke dag saam met Hom begin en afsluit. Ervaar saam met die skrywer van Klaagliedere 3 dat God se trou elke oggend nuut is. Maak tyd om deur die loop van elke dag by Hom te kuier. In die woorde van Matteus 11 moet jy gereeld eenkant tot rus kom sodat jy Jesus se ligte las op jou eie skouers kan tel terwyl jy jou swaar las vir Hom weggee. As jy tans sukkel om geestelik te groei, lê die fout dalk hier. Jou prioriteite is deurmekaar. Jy stel tweede dinge eerste en eerste dinge tweede!



Jou gesin hoort tweede hoogste op jou prioriteitslys. Sê vir ‘minder belangrike afsprake nee en maak tyd vir jou mense. Jou kinders skree na jou aandag - jou man of vrou, en jou ouers ook. Hulle is suiwer goud in jou lewe. Moenie hulle deur jou vingers laat val nie. Maak tyd om saam met hulle te gesels oor God se Woord soos wat Deuteronomium 6 jou leer. Maak ook tyd vir kuier, speel en ontspan saam met goeie vriende.





b. Doen eerste dinge eerste. Wyse mense ken die verskil tussen dit wat hulle moet doen (wat saamhang met hulle prioriteite), en dit wat ander van hulle verwag, sonder dat dit regtig belangrik is (= groepsdruk). Wyse mense spandeer die meeste van hulle tyd aan daardie dinge wat betekenis gee aan hulle verhouding met God en wat bydra tot die dien en opbou van ander. Hulle is gefokus, daarom laat hulle nie toe dat minder belangrike dinge hulle aandag verskuif nie.





c. Sê nee. Jy kan nie alles doen nie. Jy hoef ook nie. Jy is iemand wat rus nodig het omdat jou liggaam daarom vra. Maak tyd vir niksdoen en tyd om aan God se voete asem te skep. Hou op skuldig voel as jy nee sê vir nog ‘n taak, nog ‘n uitnodiging, nog ‘n werkie op jou reeds oorlaaide skouers. Moenie gevlei voel deur opmerkings soos dat net jy dit die beste kan doen nie. Moenie toelaat dat mense jou manipuleer om dinge te doen wat jy weet jou skouers gaan knak nie.





d. Moenie dat die opinies van ander mense jou leefspoed beheer nie. Niemand hier op aarde het die reg op jou siel nie. Moet dit daarom nie aan hulle weggee nie. Hou op om almal rondom jou gelukkig te probeer hou. Dan bepaal hulle opinies oor jouself binnekort jou leefspoed. Moenie van mense se erkenning afhanklik raak nie.



God het jou aanmekaar gesit om ‘n gelukkige lewe tot sy eer te leef. Wat help dit jy beskadig sy tempel – jou liggaam- deur jouself uit te brand? Kry jou prioriteite reg. Leef soos wat God wil. JY HET DIE KEUSE!





Gebed



Here Jesus, maak my rustig.

Leer my om in ritme met U te leef

As ek te vinnig hardloop, bring my dan tot stilstand.

Leer my om my tyd ook reg te gebruik, soos wat U wil

Amen :lovef:
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)