Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Maak oop jou oë!
#1


Soms is ons in die teenwoordigheid van ‘n bekende sonder dat ons dit besef. Vat maar vir Jakob. Hy het een nag in die veld op ‘n klip geslaap (Genesis 28:10-22). Toe verskyn die Here in ‘n droom aan hom!

Jakob het in sy droom ‘n leer vol engele gesien wat tot in die hemel strek. Skielik was die Here ook daar. Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here was by my. Hy bly hier en ek het dit nie eens geweet nie!” (vers 16). Sjoe, Jakob het nog gedink hy droom oor engele, toe staan die lewende God daar langs hom. Op daardie nag het Jakob se afspraak met sy Lewensbestemming, sy eie “date with destiny,” waar geword! ‘n Hemelse Reisiger was van toe af sy permanente Eregas.

Die grootste fout wat jy kan maak, is om nie die Here te herken as Hy by jou lewe opdaag nie. Om blind te wees vir God, is eerlikwaar die grootste blindheid wat daar is. Geen aardse oogarts kan jou hiermee help nie. Dis ‘n dodelike blindheid!

Maak oop jou oë! Die belangrikste ontmoeting van jou ganse lewe gebeur vandag op jou voorstoep. Dis die dag van groot dinge! Word wakker uit al jou nagmerries. Sien die Here se hemelse leer raak wat grond raak in jou lewe. Dis in die vorm van Jesus se kruis. Dit oorbrug alle afstand tussen die hemel en aarde. Jy’s nou in die teenwoordigheid van die lewende God. Gryp hierdie kans met jou hele lewe aan. Jy sal tot in alle ewigheid nooit spyt wees nie!

Ek bid

Heer Jesus, geestelike blindheid is regtig ‘n groot probleem hier op aarde
Maak vandag sommer baie mense se oë oop vir u werke,
myne ook!

Laat mense u hemelse kruis langs hulle lewe raaksien,
ek ook!

Laat mense vandag voor U neerval as hulle U herken,
ek ook!

Laat die wêreld weet dat U hemelse leer steeds op aarde grond raak,

Asseblief Here, maak ons almal se oë oop.

Amen

Hierdie week in die geskiedenis: 9 tot 15 Oktober

10 Oktober 1560: Geboortedag van die Nederlandse teoloog, Jacob Arminius. Sy geskrifte en leerstellings word aanvaar deur Protestante wat teen Calvyn gekant was.

12 Oktober 1518: Martin Luther verskyn voor Kardinaal Cajetan. Hy weier om sy 95 stellings wat hy die vorige Oktober op die kapeldeur van die Wittenberg Kasteel vasgespyker het, terug te trek.

13 Oktober 539 vC: Die Persiese leërs van Kores verower Babilon. Kort daarna keer die Judeërs terug uit ballingskap.

14 Oktober 1735: John Wesley vertrek vir die eerste keer na Amerka om daar onder die Indiane te werk. Op dieselfde dag begin hy met sy dagboek. Die laaste inskrywing is 55 jaar later – op 24 Oktober 1790.

15 Oktober 1784: Geboortedag van die komponis Thomas Hastings. Hy was ‘n albino en erg bysiende. Een van sy bekendste komposisies was Toplady (Jesus, Rots vir my geslaan)

Bron: http://www.ekerk.co.za

Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)