Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Nelson en Haydn het bymekaar uitgekom
#1
:am:Beeld-deurloop: Cecille Cilliers


Lê ek nou die dag onder die bekwame hande van my fisioterapeut terwyl Bach of Mozart of Haydn of een van die ander ou grotes in die agtergrond weerklink

Ek is 'n musikale analfabeet: kan elke wysie saamneurie, maar geen komponis of die naam van sy skepping bly by my steek nie - in skerp teëstelling met die vrou wat besig is om pynlik die kinkels uit die kabel van my nek te haal. Sy het naamlik onlangs haar doktorsgraad behaal met 'n proefskrif oor die helende eienskappe van musiek, en is by magte om elke komposisie op presies daardie grondslag te beoordeel.

Nou terwyl sy vryf en druk en trek en smeer, vertel sy 'n klein, boeiende verhaal.

Klankassosiasie, sê sy, is tog 'n interessante ding. So weet sy altyd wanneer die man wat op gereelde grondslag in haar buurt swart sakke verkoop, by haar veiligheidshek is, want hy lig nie sy vinger van die deurklokkie af voordat sy op die interkom na sy besigheid gevra het nie. 'n Lang, lang toon op die klok, weet sy, beteken dis die swartsak-man by die hek.

Daarom was dit vir haar vreemd toe sy nou die nag uit 'n diep, diep slaap wakker word om die geluid van die klokkie te hoor, 'n geluid wat nie end kry nie. Iemand leun daarop. Die swartsak-man, dink sy beneweld, hoekom sou hy om halftwee in die oggend voor my deur staan?

Maar toe sy op die interkom vra wie daar is, is dit die polisie. Mevrou, sê die sersant, toe ons ons rondes doen, sien ons jou veiligheidshek staan oop. Gee ons asseblief verlof om in te kom en seker te maak dat jou werf veilig is.
Sy is verwonderd oor hierdie onverwagte diens, en ewe verwonderd (hoort ons te wees, wonder ek op my beurt?) oor die polisie se deeglikheid en paraat heid. Hulle deursoek die werf, vind niks verdags nie, en klik oplaas die veiligheidshek stewig agter hulle dig.

Maar toe, sê sy, terwyl sy my op die ander sy laat draai, kan sy natuurlik glad nie slaap nie.

Maar die proefskrif was nie tevergeefs nie: sy sit Haydn se Nelson-mis (Missa in angustiis: Mis in 'n tyd van beproewing) in haar CD-speler, en binne tien minute is sy vas aan die slaap.

Min soos ek van musiek af weet, roer iets in my. Nelson- mis? vra ek. Hier in Vishoek is my adres mos Trafalgar Place, en vanjaar word die 200 jaar sedert die Slag van Trafalgar en Nelson se dood gedenk. Hoe kom Haydn en Nelson bymekaar uit?

Ek het geweet jy sal gëinteres seerd wees, sê sy, met die tevredenheid van een wat inligting het om mee te deel.

Die Oostenrykse prins Esterhazy was Haydn se werkgewer, en in September 1800 toe admiraal Nelson en sy minnares Lady Hamilton in Eisenstadt by die prins aan huis was, is hierdie mis ter ere van Nelson uitgevoer, waarskynlik onder die leiding van Haydn self. Die mis is presies twee jaar vantevore die eerste keer uitgevoer om prins Esterhazy se verjaardag te gedenk, slegs 'n maand ná Nelson se oorwinning oor die Franse onder Napoleon in die baai van Aboukir in wat bekend staan as die Slag van die Nyl, 1 Julie 1798.

Ek kry nie net lekker nie, maar ná die pyn voel ek sommer stukke beter. En terloops, vra ek, nie dat ek sal onthou nie, wat was vanmiddag se musiek? Sy lag. Haydn se Nelson-mis, sê sy. Vir tye van beproewing bedoel!




Reply
#2
jislaik ek sukkel om hierdie taal te lees nou !
Reply
#3
jewels Wrote:jislaik ek sukkel om hierdie taal te lees nou !


Haai Jewels...

Miskien moet jy maar hier oefen... dalk moet ek weer 'n grappie of twee pos. Smile

Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)