21-07-2005, 07:12 PM
Beeld-deurloop: Van Fairland na Amersfoort was eens te ver
Cecille Cilliers
Eenmaal 'n boer, altyd 'n boer, en daar waar my vriend Jon Tilley in 'n groot huis op 'n groot erf in Fairland, Johannesburg, woon, hang sy boere-onderrok by wyse van spreke uit.
Daar is tot onlangs aan die huis verbreek en verbou en die eens sierlike tuin is tot 'n rommelhoop omgeskep deur onbedagsame en onverantwoordelike bouers.
Maar nou is die bouwerk verby, die oorskiet sand, sement en stene verwyder en daar kan weer tuingemaak word.
Buite die kombuis is daar beddings kruie en suurlemoenbome vol vrugte, buite die voordeur geharkte gruis en formele potte met varings, maar aan die noordekant van die huis, daar waar die swembad was, het Jon sy tuin. Die lappie aarde is nie een tiende, ag, nie een honderdste van die grootte van die plase wat al onder sy sorg bestuur is nie, maar dis sýne, hier boer hy in sy wildernis.
Die swembad het hy tot visdam omgeskep, 'n diep visdam, en diep genoeg, sê Jon, sodat al sou daar hamerkoppe kom, of miskien 'n visarend, sal die visse onder die water kan wegduik . . .
Daar's karp in die dam, dié vreet onder, hou die water skoon, en straightfin barbs (weet ik!) wat die oppervlak vry hou van muskietlarwes en ander ondinge wat daar wil uitbroei.
Maar dit is nie 'n ekostelsel nie, maan Jon.
Op die eiland in die dam is daar allerlei uitheemse plantegroei, en daar's waterlelies op die water.
En die grasgroen gras wat die hele gebied bedek, is meerjarige roggras, ook nie inheems nie, maar dit saai homself en die eendjies is lief daarvoor.
Die eendjies is wel inheems, fraai witgesig nonnetjieseende, met hulle skerp fluitgeroep.
Daar's drie, 'n mannetjie en twee wyfies en hulle skarrel gelukkig rond in die groen gras, eet graag enige kos wat Jon hul le voer en sit rustig in die son op een been, kop onder die vlerk wanneer duttyd kom.
Hulle kom van Amersfoort af, vertel Jon toe ek vra en oorspronklik was daar vier, drie wyfies by die mannetjie. Maar die enetjie was heelwat kleiner as die ander en baie onrustig.
"Ek het 'n draad in die een hoek van my wildernis gespan om die nuwe grassaad teen die eende te beskerm," sê hy, "maar sy het konstant probeer om oor die draad te klouter, totdat ek verplig was om die draad weg te neem voor sy seerkry. Toe probeer sy oor die rotse klouter in die middel van die wildernis, so erg soekend en strewend dat sy soms vergeet het om te eet.
"En een oggend sit sy daar, saam met haar maats, kop onder die vlerk, maar toe ek nader gaan, besef ek sy is dood . . ."
Jon kon haar optrede nie verstaan nie, maar toe hy die rigting van haar verbete ontsnappogings meet, besef hy sy was op soek na 'n roete terug na Amersfoort.
En met 'n boer se kennis voeg hy by: Sy's natuurlik te vroeg uit haar omgewing en van haar familie weggeneem.
Sy verduideliking is sonder twyfel die korrekte een (eenmaal 'n boer, altyd 'n boer, en met boer se deurwinterde kennis), maar ek is geen boer nie en terwyl ek my verwonder oor voëls se wonderlike radarstelsels, klop my hart seer van verlies oor 'n klein, witgesig nonnetjieseend wat verhonger in haar verlange na Amersfoort.