Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Praat alle afstand uit die pad - Stehan Joubert
#1
:hartlik:
Die wêreld raak by die dag kleiner

Ons wêreld het dramaties gekrimp. Miljoene internetboodskappe en SMS boodskappe skiet daagliks in milli-sekondes oor kontinente tussen ons rekenaars rond. Meer as 8 biljoen webblaaie het die nuwe virtuele kuier- en werkplekke van die mensdom geword. Realiteit-TV, satelietskottels en ander tegnologiese wonderwerke het ons wêreld in 'n globale woonbuurt verander.

God is nou baie naby

Dis nie net die afstand tussen mense wat dramaties gekrimp het nie. Nee, die afstand tussen hemel en aarde is ook nou korter as ooit. Toe Jesus aarde toe gekom het, het die grootste afstand in die heelal vir altyd dramaties gekrimp. Hy het die onoorbrugbare pad tussen hemel en aarde dramaties verkort. Christus is nou die Roete tussen God en die wêreld. Hy is die finale Kortpad na God toe!


Die afstand tussen God en jou is dramaties korter

Wonder jy dalk oor die presiese afstand tussen God en jouself? Hier's die ware feite: God is vandag en elke ander dag een gebed van jou af! Presies so lank as wat dit jou vat om Jesus se Naam aan te roep, en baie ligjare vinniger as dit, so naby is God aan jou.

Omdat jy in Jesus glo, het Hy die groot afstand tussen God en jou uit die pad gevat. Nooit is daar 'n besetkode vir opregte gebede wat in sy naam na God toe opstyg nie. Daar is ook nie een of ander hemelse antwoordmasjien wat sê jou gebed is die vyftien miljoenste in die ry wat binne twee maande, drie ure en vyftien sekondes beantwoord gaan word nie. Ook nie 'n vooraf opgeneemde stem wat sê dat jy 'n kort boodskap moet los in die hoop dat daar dalk later 'n hemelse reaksie na jou kant toe sal kom nie.

Jy hoef nie duisende myle te stap om God se aangesig te gaan soek nie. Hoor net wat skryf Paulus in Romeine 10:6-8

"As jy in God glo, weet jy dat Chris*tus die hele tyd naby is. Dan is dit nie meer nodig om te wonder of iemand na die hemel toe moet opklim om Christus daar te gaan soek om Hom na ons toe af te bring nie. Of om êrens in die onderwêreld na Hom te gaan soek en Hom uit die dood hierheen te bring nie. Nee, dan moet jy net jou oë oopmaak en in Christus glo. Moses het immers al gesê: "God se goeie nuus, sy woord van redding, is hier. Dit is so naby aan jou soos om die regte woorde vir God te sê. Dit is so naby aan jou soos om met jou hele hart in God te glo."

Hoor weer: God is nou net een gebed ver. Net dit! Maar ook hierdie klein stukkie afstand verdwyn oombliklik wanneer jy die kans aangryp om met Hom te praat. Wanneer jy in Jesus se Naam bid soos wat Johannes 16 jou leer, trek jou woorde teen miljoene kere vinniger as die spoed van lig oor daardie pad wat Jesus tussen hemel en aarde kom bou het. As jy bid, is jy altyd een gebed naby! Dan staan jy in die troonsaal van God. Dan is alle afstand weg!

GEBED
Lewende Here, ek bring my horlosie, my dagboek en my jaarbeplanner vir U.
Leer my asseblief hoe om my tyd uit te koop.
Wys my hoe om my lewensdae tot u eer deur te bring.
Maak my getrou aan U sodat my lewe nie 'n vermorsing van kosbare tyd is nie.

Dankie dat die pad hemel toe nou korter as tevore.
Ek dank U in die Naam van Christus, die blink Môrester; die Leeu uit die Stam van Juda.
Ja, ek dank U in die Naam van die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste;
Hy wat die sleutels van die dood en die doderyk het en wat leef tot in ewigheid!
Amen :hartlik:


Vrede
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)