Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Pretoria-borde afgehaal
#1
[COLOR="Purple"]
Af met die Pretoria-naamborde!

Die Tshwane-metroraad het vandeesweek in ’n interne brief, wat Beeld gister vertroulik bekom het, kennis gegee dat hy beplan om “Pretoria” landwyd met “Tshwane” te vervang op alle roete- en rigtingwysers.

Dit is die jongste wending in die lang uitgerekte Pretoria/Tshwane-naamstryd.

Mnr. Hilton Vorster, waarnemende hoof van paaie en stormwater, sê in die brief aan die metroraad se kommunikasie- en bemarkingsafdeling dat leiding nodig is oor watter bewoording – “City of Tshwane” of “Tshwane” – op die naamborde gebruik moet word.

Die Tshwane-metroraad het reeds in 2000 ontstaan, maar daar is nie ’n stad met die naam Tshwane nie.

Die ANC ontken sedertdien Pretoria se status en beskou dit net as ’n geografiese woonbuurt wat uit ’n paar straatblokke in die middestad beslaan.

Daar word voorts in die brief aangedui dat alle regeringsvlakke betrokke sal wees by die verwydering van Pretoria-naamborde. Die Gautengse departement van openbare vervoer en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap sal onderskeidelik vir alle provinsiale en nasionale roetes verantwoordelik wees.

Vorster skryf daar is in die verlede aansienlike vandalisme aangerig aan naamborde wat die grense van die City of Tshwane aandui.

“Ons het daarom ’n strategie nodig om die vyandige reaksie in sekere kringe in die gemeenskap tot ’n minimum te beperk.”

Daar is ook ’n brief in Beeld se besit waarin mnr. Mbhazima Shilowa, Gautengse premier, aan me. Gwen Ramokgopa, uitvoerende burgemeester van Tshwane, daarop wys dat die naam Tshwane vir die metropool reeds amptelik sedert 2000 geldig is.

Hy sê die raad se aansoek om die naam van die munisipaliteit – City of Tshwane – te laat goedkeur, is dus verkeerd en stel voor dat dit teruggetrek word.

Hy sê terselfdertyd daar word “kennis geneem” van die aansoek om die “woonbuurt” Pretoria se naam en status te verander.

Shilowa sê in sy brief dat dit blyk asof daar “ ’n konflik tussen twee nasionale wette is”.

“Kragtens die Munisipale Strukturewet moet die LUR (vir plaaslike regering) ’n munisipaliteit se naam toeken wanneer dit gestig word.

“Die wet op die raad vir Suid-Afrikaanse geografiese name bepaal egter dat die minister (kuns en kultuur) geografiese name van munisipaliteite moet goedkeur.”

Shilowa sê daar word in die Strukturewet voorsiening gemaak dat wanneer daar ’n konflik is tussen dié wet en die bepalings van enige ander wet, die bepalings van die Strukturewet seëvier.

“Al die nodige stappe kan (dus) gedoen word om uitvoering te gee aan die amptelike naam van die Tshwane-munisipaliteit.”

Mnr. Willie Spies, VF+-LP, het in reaksie op die raad se brief gesê dit is duidelik dat hulle nou besluit het om teen wil en dank voort te gaan met die aansoek om die naam Tshwane as pleknaam te registreer.

“Wat die raad nou doen, is om hul fout reg te knoei deur met naamborde en advertensies ’n skynwerklikheid te skep ten opsigte van ’n administratiewe proses wat onvoltooid en onvoldoende is.

“Genoeg daarvan. Ons vergader môreoggend (vandag) met senior advokate in Pretoria om voor te berei op ’n moontlike regsproses.”

Ramokgopa het sedert eergister nie op navrae hieroor reageer nie.

Hoewel aangedui is dat sy ’n media-voorligtingsessie (wat nie met die naamsverandering verband hou nie) voor gister se raadsvergadering sou bywoon, het sy nie opgedaag nie.

Mnr. Console Tleane, die raad se kommunikasiehoof, het teen druktyd nie kommentaar gelewer nie.
[/COLOR]

Bron: Die Beeld 3 Aug. 2007
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)