Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Speel jy vir 'n Gehoor van Een?
#1
Speel jy vir ‘n Gehoor van Een?

Hierdie tyd van die jaar kyk baie van ons steeds nie te veel in die spieël nie. Die skade van die Kersfees seisoen kleef nog so ietwat om ons middellyf vas. Wel, daar is een spieël wat jy nie te gou moet systap nie; die Here s’n! Wil jy nie vir ‘n paar oomblikke alles eenkant sit waarmee jy besig is nie... Staan asseblief stil voor die hemelse spieël en beantwoord die volgende vrae eerlik:

a. Het jy gedurig ‘n obsessie om die beste te wil wees, selfs ten koste van ander?
b. Is jy opreg bly wanneer vriende, familie en kennisse suksesvol is, ook wanneer hulle meer bereik as jyself?
c. Luister jy wanneer mense praat, of staan jy maar net reg om jou eie stories te vertel as jy die kans kry?
d. Verdraai jy soms die waarheid om jouself beter te laat lyk in die oë van ander?
e. Wil jy gedurig reg wees en in beheer van sake staan?

As jy jouself eerlik in die Here se spieël beloer, dan sien jy dalk nou ‘n onaangename prentjie. Ek moet erken: ek het ook! Na al die jare op die Here se geloofspad moes ekself veel verder gevorder het as waar ek tans is. Ek praat gedurig voordat ek dink; ek dra te min laste van ander op my skouers; ek stel mense teleur....


Speel vir ‘n veel kleiner gehoor

Wanneer jy in die Here se spieël kyk, dan moet jy nou dadelik begin minder doen! Ja, jy het reg gehoor. Doen ‘n volle 100% minder van al daardie dinge wat jou so sleg laat lyk op geestelike gebied. Moenie die waarheid verdraai om jouself voor ander te laat goed lyk nie. Hou op om ten alle koste reg te wil wees, of om altyd in beheer van sake te staan. Moenie heeltyd voor in die koor probeer wees nie. Gun ander dit wat hulle het. As Christen speel jy tog net vir ‘n Gehoor van Een. Ja, jy hoef slegs die Here te beïndruk, dis al! Niemand anders se erkenning maak regtig soveel saak nie.

As jy leef vir ander mense se erkenning, gaan jy God iewers langs die pad verloor. Jesus het in Matteus 10:32-33 gesê dat jy ‘n keuse moet maak wie se erkenning jy die graagste in jou lewe wil hê: God S’n of mense s’n! Jy kan nie beide s’n tegelyk hê nie! Onthou die voordele wat beide jou bied wanneer jy jou keuses maak. Mense dra jou hoogstens vir ‘n kort rukkie op die hande. Dan’s dit oor en verby. Môre teen hierdie tyd is jy gister se ou nuus! Onthou egter dat wanneer God die slag op die regte manier van jou kennis neem dit vir jou ‘n ewige plek aan sy voete besorg. Boonop gaan Hy hier en nou elke dag sorg dat al die hare op jou kop getel word! God stoot nooit sy mense eenkant toe nie, nie hier nie en ook nie anderkant die doodlyn nie!


Kyk reg en luister

Jy sien die regte dinge in God se spieël raak wanneer jy begin luister. Te veel Christene is slegte luisteraars. Hoor net hoe belangrik is dit volgens Jakobus 1:19: “Liewe mede-Christene, plak hierdie woorde op waar julle dit el*ke dag kan sien: julle moet ander mense ’n kans gee om te sê wat hulle op die hart het. Luister rustig na hulle sonder om hulle te wil doodpraat. Wanneer dit jou kans is, gee jou mening.”

Ons hoor nie wat ander sê nie omdat ons gedurig besig is met ons eie gedagtes... met dit wat ons volgende wil sê en wat ander uit ons mond moet hoor! Stop dit! Jy het twee ore en een mond gekry sodat jy twee keer meer moet luister as praat. Om behoorlik na ander te luister, laat jou op die regte maniere minder word en ander mense meer.

As jy minder word op die regte plek – daar voor die Here se spieël -, dan gaan jy binnekort minder “hang-ups” hê en jouself sommer strate minder oor die verkeerde goed bekommer. Jou eie gerief, gemak, voorkoms, regte, veiligheid en status gaan ook nie meer voorop staan nie. Dan verskuif jou blik na God se genade wat sy hemelse spieël omraam. Dan raak jy voltyds met die God van genade besig.


Gebed

Heer en Hemelvader,
wees asseblief vandag ongelooflik goed vir u wêreld.
Laat die sonskyn van u genade oor die ganse aarde skyn.
Gee dat baie mense vandag deur Christus tot geloof in U sal kom.
Gebruik ook vir my om ‘n weerkaatser van u hemelse goedheid te wees.
Maak my minder in my eie oë sodat U my meer en meer kan gebruik.
Dankie dat U die Hoorder van gebed is, ook van myne wat in u Seun se Naam tot U kom.
Amen


Stephan Joubert

http://www.ekerk.co.za
http://www.echurch.co.za
Reply
#2
Dankie weereens dat jy die e-kerk "vonkpos" plaas, ek is so bly dat ek destyds van die e-kerk gelees het op dieknoop.co.za

Elke boodskap bring vir my iets wat my geestelik verryk, soos wat jy ook nog altyd doen. :hartlik: :lovef:
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)