Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Stefaan
#1
Die twee honde spring en jaag uitgelate deur die jong koringland – die lekkerte van vryheid!
Dolla steek vas, soos altyd wanneer sy mense sien – wil nou eers groet in haar kwylende onverstaanbare taal; beduie ernstig met die vinger…
Die baas van die honde gaan staan, luister beleefd en kyk dan onbegrypend na my om uitleg te gee. Ek trek skouers op en dan is Dolla se aandag op die honde wat om haar draai – tonge wat skeef uithang en drup van buitewees-baljaar! Ons glimlag oor haar skrikkerigheid vir die uitbundige honde.

My oog val op die embleem voor op die bors van sy t-hemp: “Porn star” met bypassende figure… en ek kyk liewers nie weer nie! Dis ‘n jong mannetjie met ‘n gespierde lyf en lang poniestert.
Ek en Dolla maak aanstaltes om aan te stap op die grondpad tussen die lande. Hy moet maar aanstap, beduie ek want ek en Dolla se pas is staan-staan verder stap. Hy stap rustig saam. Ek sien die hardheid en swaarkry van die lewe op die gesig en die hande met die stukkende plekke op, in die een hand die leitoue en in die ander hand, die sigarette en aansteker.

Hy gesels oor sy liefde vir die honde en die huis wat hy gekoop het waar hulle in ‘n tuin kan baljaar; dat hy in die omgewing gebore en getoë is; sy ouma wat die kasteel besit het en die skuur wat hulle huis geword het; werk saam met sy pa op dakke en sit vloere in van vroeg tot laat en dan sy sport twee keer per week – ‘n kontaksport van 2 tot 3 ure per keer, vandaar die lenige, geharde lyf. Praat van sy broer wat websites ontwerp en sy droom om eendag ‘n plasie van sy eie te hê om te saai en te plant. Hy sal nooit in die stad wil bly nie want hy het die veld, natuur en stilte nodig om sy kop skoon te kry.
En Stefaan stap rustig saam…

Die honde kom maak kort-kort weer ‘n draai en Dolla begin hulle ook gewoond raak.
Ek hoor van sy verhouding met sy pa wat nooit goed was nie en nou die laaste tyd wel want hulle werk saam en sy pa word ouer. Hy is baie lief vir sy ma.
En Stefaan stap rustig saam…

Hy en sy meisie van skooldae af, woon saam. Hy wil nie eintlik wil trou nie, maar sal dit seker op die ou end doen want sy wil graag trou. Sy is musikant en is in Liverpool vir ‘n show.
Ek beduie weer hy moet maar aanstap, maar so stap Stefaan rustig saam en ek wonder oor die jong mannetjie wat so gemaklik gesels en rustig saamstap. Gewoonlik groet die mense, luister beleefd en stap dan weer aan met hulle honde – privaatheid word gerespekteer.
Maar Stefaan stap rustig saam …. gesels oop en spontaan, gemaklik, rustig…

Dan kom manlief aangestap na sy draf in die lande – ‘n uur en ‘n half later.
Stefaan groet en stap soos hy gekom het met sy huppelende honde deur die koringland – huistoe.
En ek en manlief wonder oor jong Stefaan wat so sy lewe kom oopmaak het.
Reply
#2
Stefaan het seker gevoel hy kan maar met jou gesels, en ek wed jou voel beter na so intense gesprek! Soms het mens net iemand nodig om te LUISTER! ok:
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)