16-07-2005, 08:48 AM
Cecile Cilliers
ue:Was vir die eerste keer in twee jaar weer in die Krugerwildtuin, en het soos altyd, tuisgekom. Asof ek nooit weg was nie. Elke boom, elke bos, elke draai in die pad so bekend soos gister. En eergister. En al daardie vervloë jare se wildtuinbesoeke saam met John en die kinders.
Hierdie keer was dit saam met Sus Polla se kinders, wat die tante saamgenooi het op 'n onvergeetlike besoek. Want my kinders is gëinteresseerd in die veld en in die diere, maar kla dat die jongste te graag stilhou vir mossies, en dat hulle ma ure lank 'n boom kan probeer identifiseer.
Maar ander mense se kinders, al is dit 'n suster s'n, is beleefder teenoor jou as jou eie, en veins 'n vleiende belangstelling in die tante se opgewonde herkenning van appelblaar en huilboom, rooiboswilg en sambokpeul, en staar bewonderend as ek ook die Latynse name onthou.
Van my kant, al is ek geen twitcher soos Neels Jackson nou die dag die geesdriftiges beskryf het nie, deel ek Pieter en Clara se belangstelling in voëls, en saam (baie klein, my aandeel), het ons in die kort tydjie in die Laeveld 106 soorte gëidentifiseer.
En dis meer as die Hollandse omies s'n, sê Pieter trots.
Die Hollandse omies was 'n groep ouer mans wat twee-jaarliks wildtuin toe gaan met die spesifieke doel om hulle somer- en winterrekord van voëlherkenning te probeer verbeter. En met hierdie winterbesoek nie naby ons 106 kon haal nie.
Ons het hierdie groep voëlkykers in die voëlskuilte by Sweni teëgekom, en alhoewel bëindruk met hulle kennis, tog gegiggel omdat hulle bly verwys het na die LBG's, waarvan hulle te min kennis dra, bieg hulle, in plaas van die LBJ's oftewel Little Brown Jobs. LBG staan seker vir Little Brown Goetertjies, sê 'n niggie stuitig.
Hoeveel wild het julle gesien, word daar in die kafees, by die piekniekplekke gevra, die vraag gewoonlik gerig deur besoekers wat min geduld het met staar en staar met die verkyker totdat jy die kanarie of wyfievink of wat ook al korrek kan identifiseer. (Teen die tyd dat jy agterkom wat dit is is, het swaer Piet altyd spottend gesê, het die spesie al uitgesterf!)
"But did you see a kill? I wish I could see a kill," hoor ek in die winkel.
Toe vertel ek nie van die lawaai van die bobbejane buite Onder-Sabie se tentkamp toe 'n luiperd onder die trop ingevlieg het nie. Nee, ek deel dit nie, want ons kon net hóór, nie sien nie.
Maar ek reageer nogtans geesdriftig op die vraag: Twee keer, sê ek, ons het twee keer gesien hoedat daar gevang word.
By die Vervoerdam het ons 'n vleiloerie beskou (hoe mooi die swart en bruin en wit, hoe wreed gekrom die snawel), waar hy 'n padda uit die vlak watertjies opraap om oomblikke later sy prooi verwoed teen 'n venynige janfiskaal te moet beskerm.
En juis by die Sweni-water het 'n rooireier minute lank sy nek ver, vér oor die water uitgestrek: lyf, nek en kop in een strak lyn, om plotseling toe te slaan en 'n vet vis uit die water te haal. Dwars vasgevang in die skerp snawel flap die vis wanhopig, en vir meer as 'n halfuur kyk ons vasgenael deur die verkykers hoedat die reier sy prooi geduldig maneuvreer om dit eindelik triomfantelik (maar bitter stadig) kop eerste af te wurg.
Twee merkwaardige vangste, sê ek. ue: ue: