Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Uit die Kombuisvenster
#1
“‘n Venster om te kan uitkyk…” het ek altyd oor gewens.

En hier het ek dit nou: verfraai met kant, blou bottels, pietersielie- en basilikumplantjies. En ek kan uitkyk, sien, dink en droomÂ….

Wit bloeisels en blink blare aan die appelboom langsaan, is die baldadige lente wat wakker geword het en uitstrek na ‘n heerlike seisoen van lewe.

Die buurman oorkant in die groot villa (volgens buurvrou onder, is daar glo ‘n binneshuise swembad ook) ry bane oor die groot groen grasperk met sy rooi grassnytrekkertjie om die somerse groeivreugde te beheer.

Vroeg soggens wanneer die oranje skoolbus vir Kirsty kom haal, hang die ry beige broekies saam met die blou vadoeke reeds netjies aan die waslyn, ‘n paar tuintjies verder. Dis nie “panties”, “deurtrekkertjies” of “vlaggies” nie, maar gemaklike, ordentlike broeke. Die eienaar is ‘n besige tannietjie wat bure se pos uithaal wanneer dié weg is met vakansie; wat vinnig en doelgerig die straat opstap winkel toe; self nog die somergras sny met die elektriese grasmasjien; alleen woon en weet wanneer Kirsty se bus gekom het en hoe lank hy vir ons gewag het!

Die ou liggroen wilger met sy onderdanige slap takke laat my in die nasomer soms terugverlang na die hoëveld, Potchefstroom en die grensplaas by die Limpopo.

Vlaamse Christine wat in ons straat grootgeword het, het nou haar eie praktyk as spraakterapeut in die regop huisie wat eers aan Oupa en Ouma behoort het, reg langs ons. Pa kom sien haar fiets na van tyd tot tyd en kuier dan graag oor die draad wanneer hy die ou aartappelplante uithaal en die grond losmaak om die aarbeie. Nie eintlik sy stokperdjie nie, maar sit die tradisie van Oupa voort om self groente te plant.

Die rankplant se rooi en geel blare beloof iets moois, maar dartel dan grond toe vir ‘n opskopmat om uiteindelik te gaan lê as kompos. Winter is oppad…

Skielik verskyn hy uit die wolke op die horison, geluidloos en stadig… Op sy stert herken ek die embleem van Lufthansa en sien ek hoe die einde van ‘n reis aangebreek het wanneer die “silwer arend van die lug” grasieus gaan land. My gedagtes gaan land vir ‘n oomblik by jare gelede se drome wat nooit waargeword het nie…..

Vanoggend, die misterieuse spierwit laag op mure, drade, dakke, bome… ‘n Paar skoorstene verder kronkel die kaggelrook stadig boontoe om aan die winter ‘n warm hart te gee.

Die groot bak skottelgoed van gisteraand se kuier, het klein geword voor my uitkykvenster!
Reply
#2
Oe... ek wil kom kuier en ook by jou kombuis venster uitkyk. Dit klink of jou nuwe Confusedue: al 'n tuiste geword het!

Ek lag oor jou tannie se wasgoed.... en die feit dat sy weet hoe lank Kirsty se bus gewag het :haha:

:tourist:
Reply
#3
Jou "postings" maak 'n groot verlang na onbekende dinge en mense in my wakker! Hou asseblief aan pos - dit is absoluut great.
I still love chocolate.
Reply
#4
Watse genot om te kon lees, ek stem saam,hou asseblief aan met pos!

:worthy:
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)