Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Vangs van die Dag
#1
Van ver af hoor ons die opgewonde geskreeu van kinders. Ons kom rustig aangestap langs die stroompie in die bos. Twee opgeskote seuns lê op hulle mae op ‘n bruggie en tuur opgewonde in die stroompie, arms uitgestek, reg om te gryp en die blonde een is besig om met ‘n lang stok iets in die stroom aan te jaag bruggie toe. ‘n Swart beursie kom al wippende in die stroom afgery…
Ons glimlag en stap verby – seker per ongeluk ingeval.

Met ons terugkeer het die drie Duitsertjies hulle “vis” gevang en die een kom vinnig nader en wil weet waar die naaste polisiestasie is. Op ons vraag wat dan nou die probleem is, beduie hulle dat hulle die sak in die stroompie gesien het en dit toe probeer uithaal het. Iemand moes dit gesteel het en toe in die water weggegooi het.

Die ander twee hurk op die grond oor ‘n nat, vuil-wit handsak. Die inhoud van word met groot versigtigheid stukkie vir stukkie uitgehaal en op die grond oopgesprei – alles deurdrenk met water. Ons staan nuuskierig nader.
Die beursie wat netnou nog in die stroom gedryf het word vinnig oopgemaak - ‘n verskeidenheid bankkaarte maar geen geld nie. Die nood was dus vir kontant.
‘n Hele bos sleutels, duidelik dié van ‘n motor en miskien die van ’n huis of woonstel en miskien ook dié van ‘n kantoor, so raai ons.
‘n Pen wat seker nie meer sal skryf nie.
‘n Hoekige bottel parfuum waarvan ek die naam nie kan uitmaak nie - dis beslis die sak van ‘n vrou en dan word die water deurweekte sanitêre doekie half onder die nat sak ingedruk - beslÃ*s die sak van ‘n vrou.
‘n Rybewys en identiteitsdokument met ‘n foto van die jong eienares, naam, adres, telefoonnommer. Ons sien dat sy op die lughawe werk.
Vir ‘n oomblik is my simpatie by die donkerkop meisie wat nou weer iewers moet gaan tou staan in die bank en by die gemeentehuis vir al die nuwe dokumente waarsonder ‘n mens nie kan lewe nie.

Ons stel voor hulle neem die sak polisiestasie toe want miskien is daar ‘n beloning vir die verlore sak en sy inhoud. En so stap die drie toe opgewonde weg met die vangs van die dag, met hoop op ‘n beloning.
‘n Hele paar jaar gelede moes manlief vir ‘n marknavorsingsprojek ‘n draai maak by die opspraakwekkende Sun City en Lost City. Die aand bel hy en vertel van die indrukwekkende plek wat duisende lok. En hy het ook geld gemaak, vertel hy... My hart wil omslaan, want baie het ons nou nie eintlik nie en om dit te gaan wegdobbel is ook nou nie my idee van goeie rentmeesterskap nie. Maar toe die vangs van die dag! Sommerso R200 iewers by die ingang opgetel. Blykbaar het die sekuriteitsbeamptes maar net skouers opgehaal en gesê hy moet dit maar hou, want die baas sal nooit gevind word nie. Nouja, so maak ons toe ook geld by die Casino om daarmee ‘n nuwe duvetstel vir ons bed te koop.

Maar oom Pietie, pa se oudste broer se vangs van die dag was altyd die interressantste. Van geroesde skuifknippies, haarrekkies, moertjies, boudjies, skroefies, penne en elke cint wat hy kan optel. Kop omlaag loop hy by niks op straat verby nie. Alles word dan sorgvuldig gesorteer en in bakkies of bondeltjies gebêre onder in sy klerekas in sulke blik trommeltjies met kettings en slotte. Hy het presies geweet waar alles is en vra maar, oom Pietie kon altyd help as daar gesoek word na iets. Toe ons nog op skool was, was oom Pietie se trommeltjies die lekkerste skatte-ontdek. Hy het dit ook altyd graag uitgehaal en weer van vooraf die nut van elke ding besing. Ons skoolvoorraad penne, potlode en uitveërs het ons tydens die skoolvakansies by hom gekry. Ons kon net begin met, “Het oom Pietie nie dalk …” en dan verdwyn hy in sy kamer en ons hoor die gewerskaf. Later loer hy om die deur en roep ons met die vinger. Op die vloer, sittende op die een been, gaan ons dan saam deur al die skatte. Ons het ook al geweet, dié goed wat hy sommer net wil weggooi of nie meer wil hê nie, is eintlik wat hy vir ons wil gee en dan was dit presies net wat ons nodig gehad het.

So is oom Pietie, al ver in die sewentigs, grys, krom en baie doof nog steeds besig om bruikbare skatte bymekaar te maak vir wanneer dit gebruik kan word. En vir ons is hy die vangs van die dag met mooi herinneringe omdat hy so in eenvoud, dankbaar en goedhartig sy lewe leef om ander te help, sonder om ‘n belonging te verwag.
Reply
#2
[COLOR="Purple"]Hallo Hantam....

Dit laat my so dink aan my tyd in Amsterdam! Hoop die outjie het hul beloning gekry.

In Thailand het ek saam met iemand gewerk wat so elke rekkie, 'paperclip', skroefie opgetel het "vir ingeval". Dit was baie handig want 'n mens het altyd geweet waar om te gaan vra as jy so iets nodig het. Sy was 'n pyn om die toutjies van haar pakkies los te maak, want die toutjie kan iewers gebruik word. Om saam met haar geskenke oop te maak was 'n ongemaklike storie - sy kon vir lank aan daardie cellotape wikkel om dit mooi netjies af te haal :haha:

:daisy:[/COLOR]
Reply
#3
Elke nou en dan ruim ek op en gooi uit dat die honde huil, maar glo my - in my handsaK is daar altyd skuif spelde, haarknippe (wat ek geensins gebruik nie) haar rekkies (wat ek ook nie gebruik nie - my kapsel is kort) en haakspelde - waar hul vandaan kom weet ek nie - is net alewig daar.
Reply
#4
Binnekort hou ons so 'n dag vir die dames en een van die aktiwiteite is om die handsakke uit te gooi en te sien wat dra ons altyd so saam. Kan nie wag nie!!:wow:
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)