Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Verkeerd-om
#1
Die eerste sal laaste wees en die laaste eerste …
The way up is down ...
Hoe dieper die liefde, hoe groter die pyn …
To live is to die…

Heeltemal verkeerd-om, maar so werk dit nou maar eenmaal.

Vir ons Dolla is verkeerd-om al ‘n oorwinning, want sien, aantrek kom nie maklik nie en op 15 moet ek dit nog elke dag vir haar doen. Selfs as die skoene haar eendvoete gee, lag sy oop-mond en trots want sy het dit reggekry!

Klere is deesdae verkeerd-om. In die naaldwerkklas op skool is ons geleer om elke binne-naatjie pynlik presies te sny en af te werk en sommige ook nog met ‘n stukkie skuinsband. Die “washing instructions” moes ook altyd netjies binnetoe gestryk of afgeknip word sodat niemand dit op jou rug kon lees nie. Deesdae is van die merkklere gemaak met die nate “ ” en bo-op waar almal dit kan sien – soms nogal stylvol en kreatief mooi.

In België kry 'n mens Café au lait – in Nederlands koffie verkeerd en in plat Afrikaans, koffie verkeerd-om. Man, is dit nou heerlik! Proe soos Ouma se melkkoffie – lekker warm koffie met baie melk. Mens bestel dit in kaffeetjies – en soms word dit in so ‘n oulike klein teepotjie bedien.
Die Franse hier drink warm sjokolade uit ‘n klein, diep poedingbakkie - die soort bakkie waarin ons lekker bruin stoofpoeding met warm vla bedien. So drink hulle ewe verfynd hulle warm sjokolade. Lekker man! Baie sjokolade, maar met die groot wye rand word dit net te gou koud en dan sleep mens die sjokoladevel so oor die kant van die kommetjie en teen jou lip af – minder verfynd.

Ek luister so na die verkeerd-om tiener-wysheid ...
Ja, die meisie het toe gevra of hy met haar wil uitgaan??
Erens krap dit aan ‘n waarde, of is dit nou tradisie? Ja, my Sus wat nou bykans sewe jaar alleen is, kry dit ook nie reg om eerste voelers uit te steek na die manne nie. Voel net nie reg nie. Bly dan maar liewer alleen.

En as ek so kyk na die jonges en die nie-meer-so jonges vandag, oorbelle orals denkbaar en ondenkbaar. Toe ons op die oorbelstadium was in, lét wel, die tienerjare, was ‘n outjie met EEN oorbel van die minder goeies en moes hy volgens die raad van ons ouers, nie deel wees van die vriendekring nie. Want een vrot appel maak mos die hele krat vrot.

En wanneer ek so met die bus Leuven toe ry, sit al die jonges met ‘n groot afwesigheid en ‘n draadjie of twee in die ore en al die ou mense wat langs die pad opklim, moet staan en vashou in die paadjies. Dis nou sommer heeltemal verkeerd-om.

So met ‘n jongman in die huis, is daar die ewige stryd van, “Het Ma nie vir my ‘n ou paar Eurotjies om te leen nie?”
“Maar dis dan nog nie Vrydag nie? Kan jy nie wag tot dan nie?”
Hierdie verkeerd-om verstaan ek beter wanneer ek die afgetrede omies met hulle golfkeppies die luukse plat karre sien ry. Ek weet hulle verstaan die lekker gevoel van, dis myne waarvoor ek hard gewerk het, maar waardering vir die spoed, knoppies en skermpies, klank, hoogte en laagte van die grond af en breedte van die bande en rims kan volgens my nie heeltemal daar wees soos wanneer mens in die vinnige twintiger en dertiger klas val nie. Sommige leer eers veel later van spaar en dán koop en heel dikwels vandag, is dit leen en pynlik gou weer teruggee.

En dan is daar die pynlike verkeerd-om van ‘n kind wat sterf voor die ouers, soos die ontydige dood van pragtige 19jarige Eva-Lianne in ‘n motorongeluk.Verstaan moet mens nie, want dit kan nie. Leer om daarmee saam te leef, wel.

The way up is down
Hoe dieper die liefde, hoe groter die pyn
Om te lewe is om te sterf
The pain and beauty of memories
Bereavement and joy
Hope out of grief
Life out of death.
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)