Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Vir ou lyf is dit goed dorp is dooierig!
#1
[COLOR="Purple"]
Cecile Cilliers :engel:

Praat van toewyding! Gedug gereformeerd, het ek nogtans saam met die Katolieke familie die feesdiens in die kerk van Sint Lourens gaan bywoon.

Sint Lourens is my taamlik onromantiese weergawe van ons naaste dorpie se naam: Sant Lorenc des Cardasser – Sint Lourens van die Distels.

Wie presies dié heilige was, kon ons nog nie agterkom nie, maar tydens die twee uur lange diens (nie in Spaans nie, maar in die onverstaanbare plaaslike dialek – ek kon Dios verstaan en gracias) is die gemeente die geleentheid gegee om ’n oorblyfsel van die heilige aan te raak – ’n stukkie been of hare agter glas.

Ek is onkant gevang, het gedink daar word opgestaan om ’n geldjie voor by die altaar te gaan neersit, en te laat besef wat aan die hand is. Of daar vir ’n NG lidmaat enige seën op dié aanraking sal rus, is te betwyfel.

Behalwe dat ek as gelowige, al sy dit soms sonder begrip, altyd ’n mate van troos en stigting uit die kerkruimte self kry, was die blywendste herinnering van die diens die warreling van waaiers soos die vroue ’n bietjie koelte in hulle onmiddellike omgewing probeer skep. Gelukkig, as jy ook aan die ontvangkant was. Dit is warm in Majorka, en die Spaanse señoras en señoritas se waaiers dien ’n praktiese doel. In ’n NG milieu sal dit waarskynlik as onstigtelik beskou word . . .

Die kerkdiens Vrydag het saamgeval met die feesdag van Sint Lorenc, maar dit was die hele week fiësta, ’n gereelde somergebeurtenis. Elke dorpie, klein of groot, bied in die vakansie sy eie fees aan.

Ons was beïndruk met die verskeidenheid aanbiedinge: die dorp van 3 000 inwoners het sy eie blaasorkes, met fluit, saksofoon, klarinet, en trom. Daar was ook die meer tradisionele musiek – doedelsakspelers, mans en vroue, wat begelei word deur tromspelers wat tegelykertyd op fluite blaas.

Een hele aand is aan perde gewy, en sulke mooi, goed versorgde diere het ek lanklaas gesien. Elkeen wat vertoon is, se ras is genoem, sy naam, sy herkoms, sy eienaar en afrigter, om dan trots sy passies uit te haal.

Vir die kinders was daar bedags optogte met reuse houtfigure, fietsrenne en grapjasse, saans het hulle saam met die ouers gekuier tot wie weet watter tyd. Die siësta in die namiddag maak op vir verlore slaap.

Nee wat, sê Lorenzo (nie die heilige nie) waar ons vroegoggend saam op die plein ’n koppie koffie sit en drink. Hy praat ’n mooi, stadige Kastiliaans, sodat ek ook kan volg. Ons ou dorpie is maar dooierig. Die mense van Arta weet van fiësta hou.

Hy begin ritmies tik-tik met sy teelepel teen sy koppie. Só, sê hy, net só begin menige partytjie in Arta. Iemand tik teen ’n koppie of ’n glas, iemand anders neem die ritme op, begin trom slaan op die tafel, daar word deur die tande gefluit, en kort voor lank is die hele dorp aan die dans . . .

Ons het dit meegemaak, op Arta, dié dansery, en dit was ’n fees.

’n Orkes wat nooit rus nie, en man en muis, jonk en oud op die dansbaan. Selfs rye mans en vroue sonder dansmaats wat vrolik hulle (voorgeskrewe) passies uitvoer.

Maar ons het ná drie die oggend eers in die bed gekom . . .

Vir hierdie ou lyf is dit maar goed ons dorp is die dooierige Sint Lourens van die Distels!

[/COLOR]
Bron: Beeld Deurloop
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)