Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Voete was
#1
Hierdie opstel het in die koerant Beeld verskyn.
Geniet dit!

Deur Stephan Joubert
My vriend Pine, oftewel Salmon Pienaar, soos wat sy geboortesertifikaat
sê, het vroeër vir die Suid-Afrikaanse Lugmag gevlieg. Vandag vlieg hy
as private vlieënier die hele Afrika vol. Sy grootste 'vliegtuigstorie'
is wanneer hy vertel hoe sy lewe se koördinate dramaties verander het
toe hy die Man van Nasaret trompop raakgeloop het. Almal wat die ou
Pine geken het, was oorbluf oor Pine wie se lewe nie meer ontsier is
deur daardie dinge wat 'tawwe manne' gewoonlik doen om hul manlikheid te bewys nie.

Maar 'n mens bly ook maar net mens. Hier en daar steek dinge vas wat
moeilik uit jou sisteem padgee. Daarom dat Pine so geskok was toe hy op
'n dag bewus raak van 'n innerlike oortuiging dat hy sy huiswerker,
Maria Matseke, se voete moet was. Hy, 'n eks-lugmagvlieënier, wat voete
was?! Dit het nie te lekker afgegaan nie. Maar vir iemand wat so
radikaal tot geloof gekom het, en wat nie met die gewig van
godsdienstige vroomheid opgesaal sit nie, is só 'n oortuiging nie
grappies nie. Nogtans was dit nie 'n maklike ding om te doen nie. Jy
moet immers op jou knieë voor iemand staan as jy voete was. Pine het
weke lank oor hierdie voetwassery-ding getob.

Tot op 'n dag dat hy dit nie langer kon uithou nie. Hy het vir Maria nader geroep en vir haar gesê om haar skoene uit te trek. Terwyl dié waardige dame, wat al jare ank by Pine werk, hom groot-oog aangekyk het, het hy haar voete onbeholpe gewas. Hy, 'n man onder die manne, op sy knieë voor sy huiswerker met 'n skotteltjie water het skielik hardop uitgebasuin waarvoor Jesus staan. Toe volg die eintlike skok 'n paar dae later.

Maria het kom sê: 'Meneer Pine, jy moet asseblief Sondag in Mamelodi kom
voete was!' 'Hoekom?? het Pine gesê. 'Ek werk al jare lank vir jou, maar
jy het nooit agtergekom van die artritis wat maak dat ek moeilik oor die
weg kom nie.'Nou die dag, toe jy my voete gewas het, sou my laaste
werkdag by jou gewees het. Ek wou bedank want ek kan nie meer die pyn
uitstaan nie.Maar toe was jy my voete. Kyk, ek kan weer loop. 'Die pyn
is weg. Die Here het my aangeraak. Die mense by my kerk in Mamelodi het
hiervan gehoor. Hulle wag vir jou!' Egte Goeie Nuus het daardie dag
gewen. Pine se buite-die-boksgehoorsaamheid was al wat nodig was om sy
lewe in sesde rat te plaas.

Terloops, jy moet hierdie ou grote deesdae hoor. My vlieg- vriend loop
deesdae saam met Jesus op water rond! En ek leer by hom. Want dis dáár
waar ek ook die graagste wil wees. Miskien het ek self te gewoond geraak
aan heilige dinge. Ek is al só ge-kerk, be-preek, op-gepreek, ingelig,
geleer, of self aan die leer dat min dinge aan die geestelike front my
nog soos 'n klein kindjie verras. Eintlik het ek my geloof lankal in 'n
veilige boksie verpak met etikette aan alles en almal daarbinne én
daarbuite. Ek is vas oortuig van wat reg en verkeerd is, en saam met
ander sing ek Sondae half valerig oor Jesus wat die Bron van my vreugde
is. Dalk het ek ook tussendeur Christenskap in 'n stel dooie reëls
vervorm, in plaas van 'n lewende verhouding met Jesus. Ja, ek veg vir
die waarheid en staan dapper op vir my beginsels, maar verander dit
mense se lewe ooit op die regte manier? Daarom dat ek skielik so
doodmoeg is vir dié geblikte, kort-raklewegodsdiens waarvan die
vervaldatum lankal verstryk het. Met dié dat ek vandag amptelik bedank
by die kerklike klub van veilige heiliges waarvan ek die erevoorsitter
is! Ek wil Jesus weer op verrassende maniere ontdek, soos wat Hy vir
Maria en Pine verras het deur hulle in 'n lewende seen vir mekaar en
ander te verander. Terwyl ons kerklik dink, praat en dreig oor hoe ons
nog eendag die wêreld gaan verander, gebruik Jesus intussen doodgewone
mense onder ons neuse om 'n paar sentimeter op 'n slag splinternuut te
maak. Salmon Pienaar van Pretoria-Oos en Maria Matseke van Mamelodi het
Jesus se vlag stil-stewig geplant deur mekaar te dien. Dit het die
hemele geskud. Dink net wat sal gebeur as ons almal die kerklike
servette van ons nekke afhaal en ons dit 'n slag oor ons arms gooi om
self ook bediendes van Jesus te word!

(Dr. Stephan Joubert is predikant van die NG gemeente Moreletta Park en
redakteur van die e-kerk.)
Reply
#2
Kostelik! :daisy:
Reply
#3
oe-la-la Wrote:Kostelik! :daisy:


... en ook 'n uitdaging! Smile
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)