06-10-2005, 08:19 PM
Beeld-deurloop
Cecille Cilliers
:tourist: Dis glo een van die tekens van die ouderdom. Sommige bejaardes sukkel om te sien, ander benader die lewe met 'n hoesê op die lippe, en nog 'n lotjie soek konstant hulle goed. Dis nie net omdat die geheue bietjie kort word en die oues van dae vergeet het waar die inkomstebelasting se laaste brief of die hond se leiband of die potjie sop neergesit is nie - ná 'n bepaalde leeftyd lê daar groot sekuriteit in 'n mens se besittings.
Jy wil weet waar jou goed is.
Ek onthou dat toe ouma Katie se verstand so kort geraak het en sy by haar dogter moes gaan inwoon, het dié al haar goedjies uit die woonstel gaan haal en in haar ma se kamer gesit . En toe al die ou, bekende goed binne sig was, het ouma Katie tot rus ge kom. Nie heeltemal tot rus gekom nie, maar darem.
Hier by Amalie herlees ek John Bayley se ontstigtende en ontroerende vertelling van sy vrou, Iris Murdoch, se stryd met Alzheimer se siekte. Enige verandering, enige vreemde omgewing, selfs enige vreemdelinge, het aan haar onthutsende angsaanvalle besorg. Sy was op haar gelukkigste in haar eie huis, 'n vlugteling uit die vreemde, angswekkende wêreld daarbuite.
Die vlug hierheen met KLM vereis dat mens bykans tien uur op Amsterdam se lughawe moet deurbring. Ten spyte van die gerieflike Schiphol, was ek warm, moeg en bitter kort van draad teen die tyd dat ek op die vliegtuig New York toe klim. Lekker, ek sit heel voor in die kajuit, en daar is baie beenruimte. Maar toe is daar 'n oponthoud, 'n baie lang oponthoud. Die tyd gaan verby, ek verlang na kos en slaap, maar behalwe dat die kaptein ons etlike kere om verskoning vra, gebeur daar niks.
Toe verskyn daar vlak langs my 'n bedremmelde groepie - man, vrou, ouer vrou, twee kinders en 'n slapende kind op die ma se arm. Midde-Oosterlinge, lyk dit, maer, hol-ogig, angsbevange, en omgewe van die onaangename reuk van ou urine, ongewaste liggame en vrees.
Hulle word na hulle sitplekke gewys, maar oomblikke later word hulle weer van die vliegtuig afgehaal. En ons wag weer. Wag lank. Toe uiteindelik begin die vliegtuig snor en ons vertrek meer as 'n uur laat New York toe. Op my navraag, verduidelik die lugwaardin dat ander passasiers (seker te verwagte) gekla het, en die groepie is eers teruggeneem terminaal toe, gewas, in lughawe-oorpakke geklee, en toe op die vliegtuig toegelaat. Hulle eie klere is in lugdigte houers gepak en in die bagasieruim gestop, saam met die bietjie ander besittings wat reeds aan boord was. Hulle sal die klere soek, sê die lugwaardin.
Gister lees ek van Helen Byerley, 92 jaar oud, en gesiene inwo ner van New Orleans. Sy kon nie voor Katrina uit vlug nie, maar vrywilligers het na haar omgesien, haar versorg, en haar eindelik tot rus laat kom in Lake Providence in Louisiana. Sy het baie jare vantevore daar gewoon, haar toentertydse huis is nou die inligtingsentrum. Maar van die huis in New Orleans is niks oor nie. Nie 'n meubelstuk of 'n foto of 'n draad klere nie.
"Mense is vir my so goed," sê sy, "maar hoe kan ek hier tuis kom, so sonder my goed? Ek is niks meer as 'n vlugteling nie, 'n vlugteling in my eie land . . ."
Ek soek ook nou my goed. Ek kuier lekker by die kinders, maar nou wil ek my boeke om my hê, my bed, my eie vier mure. Hierdie vlugteling wil nou huis toe gaan.
:tourist: