Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Wie het ooit gese Londen is 'n hartelose stad?
#1



Beeld-deurloop

Cecille Cilliers

Geoff is Engelse onderwyser by 'n hoog aangeskrewe seunskool in Kaapstad. Hy is ook voëlkenner, krieketafrigter en -skeidsregter.

En dit was met die krieketpet op die kop dat hy in die wintervakansie die skool se top-krieketspan op toer geneem het na Engeland en Nederland. Waar hulle ál hul wedstryde gewen het, selfs teen die toonaangewende Eton, maar tot Geoff se verleentheid verloor het in 'n vriendskaplike wedstryd teen Pretoria se Boys' High, wat ook in Brittanje op besoek was.

En saam met wie die Kapenaars die bomme meegemaak het. Of amper. Die krieketspanne se hotel was digby die treinstasie en vlak naas die bus waar die bomme ontplof het.

Die eerste aand moes hulle onder polisiebegeleiding na hulle hotel toe. Opwindend vir die seuns miskien, maar minder só vir die onderwysers wat vir hul veiligheid verantwoordelik was.

Die laaste aand voor hulle vertrek huis toe word die seuns vroeg kamer toe gestuur om te gaan pak - die bus lughawe toe vertrek voordag. Die drie onderwysers het nog 'n rukkie sit en ginnegaap, maar Geoff neem traag van Londen afskeid.

Om darem net nog iets van die reusestad te ervaar voor die terugtog, stap hy by die hotel uit, en kies 'n ander koers as wat hulle elke dag gevolg het - hy stap regs om die hotel verby en wyd om die steeds toegekampte bus. En bevind hom in 'n smal agterstraatjie vol klein winkeltjies, almal nou toe.
Dis stil daar, die verkeer se geraas gedemp. En op sy regterhand skielik, 'n klein kroegie. Daar's 'n uithangbord, en die naam prominent daarop: The Boot.
Geoff gaan sit by die toonbank, bestel 'n bier, en sien teen die oorkantste muur 'n portret wat vir hom op daardie afstand baie lyk na Dickens, die Engelse romanskrywer in sy leerplan. Daar skyn 'n gedenkplaat naas die portret te wees. Hy vra die kroegmeisie daarna.

O ja, sê sy, hierdie kroeg is gereeld deur Dickens besoek, dit is sy stoel dáár, die klein rooie. Nou kom sit sy kleinkind - of is dit straks al agterkleinkind ? - soms daarop.

Geoff wil verder uitvra, maar sy moet ander klante bedien, sê net oor haar skouer : Die eienaar kan jou stellig meer vertel - hy sit voor op straat . . .
Op 'n bank voor die kroeg kry Geoff die Ierse kroegeienaar wat hom alles vertel van The Boot, en dat dit as kroeg in Barnaby Rudge voorkom. Ken Geoff die roman? Uit die aard van sy werk, sê Geoff, ken hy feitlik ál die Dickens-romans, maar dié een het hy nog nie gelees nie.

Jy moet dit lees, sê die kroegbaas. Jy kan môre een by die boekwinkel hiernaas kom koop, hulle hou dit altyd aan, ter wille van die kroeg.
Maar Geoff skud sy kop: Hulle moet baie vroeg vort. Maar hy sal moontlik op die lughawe een kan kry.

Dit begin donker word, Geoff groet en stap oor die straat. Toe hy terugkyk om te waai, is die kroegbaas weg, maar die lig is nog nét goed genoeg vir 'n foto van die skoen-kroeg. Klaar gekiek, steek hy die kamera in sy sak, en wil net om die hoek stap, toe iemand na hom roep.

Daar staan die Ier, boek in die hand. Neem mý eksemplaar, sê hy. Jy kan nie The Boot besoek en sonder Barnaby Rudge huis toe gaan nie.
Wie't beweer, vra Geoff, dat Londen 'n hartelose stad is?

:daisy:
Reply


Possibly Related Threads...
Thread Author Replies Views Last Post
  Londen se stimulasie te veel vir die 'colonial' Pronkertjie 0 2,582 Less than 1 minute ago
Last Post:

Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)