Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Zara Lag
#1
Dié grouerige oggend sê, ek moet alléén in die winkels gaan rondwaal waar niemand kan kla van verveling omdat ek nie kyk na merkklere nie. Nederlandse vriendin, Ellen het noudie dag vir my die mooiste winkeltjies gewys – een wat tweedehandse klere verkoop en ‘n ander een wat einde-van-die-reeks verkoop.
“Kyk sommer vir my vir ‘n mooi t-shirt, swart of wit wat mooi pas en ook ‘n jean, nommer 34,” sê Boet oppad uit.
Ek trek toe sommer ook ‘n paar eurotjies ingeval ek iets moois raakloop.

Ek sukkel om die tweedehandse winkeltjie te vind – almal lyk so duur en eksklusief… Dan stap ek by my vermoede in en ‘n rokersstem groet, “Bonjour Madame!” Dan eers herken ek die winkel – aan die vriendelike, bottelblonde madame.
Ek moet maak of ek geïnterreseerd bly as ek stilweg snak om asem te kry – ‘n ou serpie kos so 50 euro en ‘n gewone toppie so 70. Ek blaai-blaai maar vinnig deur se kant toe en verdwyn sonder ‘n “merci et bon journeé” want ewe skielik is my mooi dag grou soos die weer buite. Oppad terug motor toe glip ek by die einde-van-die reeks winkel in en besluit sommer om dadelik eers deur die pryse te blaai. Rustig in, is toe vinnig uit - selfde storie!

Ek klim in my kar en ry dadelik huiswaarts, stop by die kruidenierswinkel en koop nie een nie, maar twee koffiekoeken. Tuis raak ek oorsoet van die koffiekoeken en die groot dam warm sjokolade wat ek self gemaak het – alles het maar ‘n paar sent gekos! Drink en eet toe sommer my skok en verontwaardiging weg.
Nee wat, Boet kan maar vergeet. Ons sal maar na C&A, H&M of selfs ou Zara gaan vir sy merkklere. Laat my dink aan Sarah van die Bybel - het gelag oor ‘n onwaarskynlikheid wat waar geword het. Nou lag Zara van die winkel vir my, “Nooit gedink jy sal by my koop nie ne?!” Manlief en Boet sê hoeka ek het geen benul van pryse as ek snak na asem oor skoen-en-broekpryse nie. Moet doelbewus my hand oor my mond hou; maak of ek gaap, net om nie iets onwys kwyt te raak nie.

Ek verstaan ook nou hoe manlief moes voel die dag toe ons gaan verloofring soek het in Windoek. Al is mens hóé arm, jy moet darem ‘n ring of bandjie gee – iets wat ‘n mens solank aan mekaar vasmaak tot die dag van die ewige belofte. Natuurlik was ek opgewonde - nogal spesiaal aangetrek vir die okkasie ook. Watter vrou raak nie opgewonde oor mooi juwele koop nie! Nouja, toe ons so voet aan wal sit in die eerste winkeltjie en die netjiese man die laaitjie met die blink stene so uittrek en ek nog wou begin met die heerlike groot-soek en aanpas, is dit of manlief net skielik bleek raak van seesiekgeit. Nie van die dansende blink van die stene nie, maar die skommel van die syfertjies aan die ander kant van die punt. Met ‘n mompel van, “later weer kom”, is ons toe ook sommer huistoe sonder ‘n ring. Op die ou end het ons twee laat smelt om ‘n blink, nuwe een te maak.

En dit is seker maar waar my voorliefde vir die tweedehandse goed begin het. Té lekker om tussen rommel en ander se gemors die kosbare skat te vind, of dit nou klere of enigiets anders is. Ek is té trots op my twee halssnoere wat ek noudie dag by ‘n tweedehandse tafel gekoop het. Het al lankal gedink ek wil iets blou’s hê en al jare lank die mooi blink, swart steenkrale bewonder, maar was nog altyd net té duur om te koop. En daar vind ek die twee skatte toe vir 10 euro – die swart steensnoer en die blou een van egte Belgiese kristal – het nogal ‘n merknaam ook. Boet is baie trots op my oor dié merk. (Vandag het ek die blou een met trots gedra – ‘n ware skat in die aangesig van die skreiendes.) So het ek ook al ‘n paar stukkies klere gekoop - by die tweedehandse deurmekaarwinkeltjie in Leuven en die car-boot-sale in Londen. Mooi weggooigoed. Ek dra dit bykans daagliks en weet, as ek die dag moeg is daarvoor, is dit opgedra en pla my gewete my nie as ek dit wegmaak nie. Waarde vir geld, sou ek sê.

Nou wonder ek oor die einde-van-die-reeks winkel… Wat nou as dit daar ook einde-van-die-reeks raak – na hoeveel seisoene? Waar gaan al die goed dán heen – merk of nie merk nie? ‘n Paar vreemde mensies met snaakse klere en haarstyle en ek dink, ietwat wanaangepas in die samelewing van normale mense, skryf voor wat nou kwansuis mode is - wat ons móét dra of tog ásseblief nié moet dra nie. Soos die puntskoen-mode. Ek dink dis afgekyk uit die Alladin-boekie se tekening van die sierlike puntskoene. Maar wáár het jy nou al gesien hierdie puntskoene pas aan ‘n boerevoet wat vasstaan op die aarde – nooit ‘n skoen geken het in die kinderdae nie, die vryheid van kaalvoet skooltoe – somer en winter. Mens moet seker twee of wat nommers groter vat sodat jou tone nie bondel nie en jy op jou oudag nie sit met bunions nie. Dan moet jy ook nog van vooraf leer loop met die twee nommers te groot, om nie soos ‘n eend te loop nie. Weet ook nie wat sal word van elegansie as die punt gaan vassteek in die hobbelrige, Romeins-Belgiese sypaadjies nie! Dié skoen moes maar gebly het by die fyn Franse en Italiaanse Aspoestertjies.
Dan is daar nog die midrifbroeke wat almal so dra onder die naeltjie met die kort toppies. Ai, sommige lyf-lyfies vou bo-oor soos die brooddeeg wat oor ma se broodpan rys. Ek moet darem toegee, hier is die vrouens nie skaam om voulywe te wys nie! Selfs nie eers die boepie van ‘n swanger vrou word gespaar nie – mooi uitgedruk tussen die broek, onder en die té klein toppie, bo – lyk nes ‘n puisie wat begin uitstoot. Moet sê, ek het hier nog maar min smaakvol, elegant geklede swanger vrouens gesien – gemaklik, ja. Of is dit nou ongemaklik?





Ek dink nie ek is oor die skok en teleurstelling van die oggend nie.




Voor ek dalk té veel kwytraak, of hierdie boerevoet ‘n elegante fyn toontjie trap, laat ek my teleurstelling gaan verdrink in nog ‘n gratis dam, soet, warm sjokolade.
Miskien voel ek beter daarna.
Reply


Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)