Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
Zim se bittereinder-boere pak op en waai
#1
Harare. – Zimbabwe se laaste wit bittereinder-boere – vuisvoos weens die lang lys van arrestasies en hernieude plaasbesettings – het dié naweek hul goed begin pak en hul plase verlaat.

Dié uittog bring ’n einde aan meer as ’n halwe dekade se moedige weerstand teen die regering se uitsettingsbevele, het verteenwoordigers van die boere-gemeenskap gesê.

Voertuie met huisware en meubels het na dorpe vertrek waar die boere by familie gaan bly of in hotelle gaan tuisgaan, het die kommersiële boere-unie (CFU) gister gesê.

Hoe groot die uittog was, is nog moeilik om te bepaal, maar volgens die boere-unie is die meeste boere wat tot dusver nog vasgebyt het, nou van hul plase af.

Die regering het vroeër vandeesmaand aan die 400 oorblywende wit boere opdrag gegee om hul goed te pak en teen 12 Oktober uit te wees.

Die meeste het dié bevel verontagsaam, maar ná die arrestasie verlede week van mnre. Daniel Nel en Gert Terblanche, twee boere van Karoi, het baie boere glo besef dit is nou die einde.

Benewens Nel en Terblanche, wat hul saak in die hof wou beveg, maar onsuksesvol was, is verskeie ander boere en buitelandse beleggers in hegtenis geneem.

“Dit is baie hartseer. Mense laai maar hul goed op en trek.

“Baie het nêrens om heen te gaan nie en soek blyplek,” het mnr. Ben Freeth, ’n amptenaar van die CFU in die Karoi-distrik, gesê.

Van die 26 plase wat nog deur wit boere in dié gebied besit word, was nog net 3 teen gister operasioneel. Dit is ondanks vroeëre beloftes van die regering dat die plaasbesettings verby is.

“Etniese suiwering is presies wat dit is. Daar is geen ander woord daarvoor nie,” het Freeth gesê.

Mnr. Didymus Mutasa, minister vir staatsekuriteit en grondhervorming, het gesê die grond word van wit boere weggeneem en aan swart kleinboere gegee om “koloniale ongeregtighede te herstel”.

Boere wys daarop dat sowat 230 000 swart plaaswerkers nou ook sonder heenkome sit.

Mutasa het vroeër benadruk dat die Zimbabwiese regering nié plase gaan toeken aan wit boere wat voorheen van hul plase ontneem is en nou weer om grond aansoek gedoen het nie.

“Ons neem die grond weg van die wit mense en dan kom dieselfde wit mense en doen weer aansoek vir grond. Vir watter grond doen hulle aansoek?” wou hy weet.

Mutasa se uitlatings is lynreg in teenstelling met wat me. Flora Buka, minister van spe*siale sake verantwoordelik vir grondsake, vroeër gesê het.

Sy het onlangs tydens ’n landbou-konferensie in Suid-Afrika gesê die Zimbabwiese regering oorweeg om grond aan wit boere terug te gee.

Bron: Die Beeld
Reply


Possibly Related Threads...
Thread Author Replies Views Last Post
  Daar's 'n wind wat waai Pronkertjie 4 3,673 22-09-2004, 08:26 AM
Last Post: oe-la-la

Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)