15-10-2005, 08:30 AM
Beeld-deurloop: Cecile Cilliers
Mal is ek mos oor 'n storie, is as 't ware van stories inmekaargesit. Dis eintlik dié dat ek nie 'n televisie in my huis het nie. Intellektuele snobisme het daar niks mee te make nie, dis te wyte aan 'n basiese drang - noem dit 'n gebrek - om selfs die grootste snert tot op die bitter einde klaar te kyk. Ek moet net eenvoudig weet waar en hoe 'n storie sy draai kry.
Had ek geweet dat die blonde vrou met 'n storie sou begin, het ek my ore toegedruk. Maar daar sit ons op Schiphol (alweer Amsterdam, en die vlug alweer laat - dis iets in die drinkwater . . .) en sy wil ewe onskuldig weet of ek van Kaapstad kom.
Ja, sê ek, ek woon daar.
Sy's middeljarig, dikkerig, praat met 'n Amerikaanse aksent en is baie blond. Uit huis uit, nie uit 'n bottel nie. En blyk toe inderdaad van Sweedse herkoms te wees. Maar dit kom eers later, toe sy al die kwellings begin uitryg.
Is die Kaap so mooi soos die mense sê, vra sy. Ja, sê ek, maar voor ek kan uitwei oor die blou en goud van 'n mooi dag, sê sy sy's op pad Kleinmond toe. Vir 'n bruilof, sê sy. In 'n grot, met 'n uitsig op die oseaan en daar's glo walvisse. Die bruidegom se ma reël alles, en sy kon net agt dae kry by die onderwysdepartement en dit was al vriendelik van hulle, want sy doseer Algebra 2.
Apatie agtergelaat, want ek kan sien hier kom 'n storie, val ek haar summier in die rede: Vertel nou eers alles, en begin heel voor - wie gaan trou en hoekom in 'n grot?
My enigste dogter, begin sy, werk vir die militêre polisie in die VSA , en het tot onlangs diens gedoen in Irak. Daar het sy 'n Suid-Afrikaner ontmoet wat sy loopbaan in die Suid-Afrikaanse weermag opgegee het vir kontrakwerk in die Amerikaanse militêre intelligensie. Hulle maak dikwels van buitelanders gebruik. En nou gaan hulle trou. Op Kleinmond - sy sukkel met die uitspraak. My dogter wou op sluit in Suid-Afrika trou, en omdat ek so ver is, reël sy ma alles en sy het besluit op die romantiese seremonie in 'n grot wat uitkyk op die see, miskien met walvisse . . .
En alles klink wonderlik, maar sy't hom nog net op die e- pos ontmoet, en sy's baie beswaard. Weet ek dalk iets van Afrikaners? Watse geloof sou hulle hê? Sy self is Unitariër, en hulle glo nie aan die Drie-eenheid nie, en die Sweedse Lutherane wat sy ken is so dogmaties, hulle glo sy gaan om dié rede reguit hel toe. Is die Suid-Afrikaners ook so?
Ek probeer nog iets beduie toe trek sy alweer. Die voornemende egpaar is die vorige dag na 'n prokureur - hoekom dan? Is daar fout met hom, of dalk met haar kind?
Eindelik kry ek 'n kans om te vertel van voorhuwelikse kontrakte en dat gaaf soos die aanstaande skoonseun mag wees, dit sal beteken dat hy nie sy hande op haar dogter se erfporsie kan kry nie.
Toe verhelder haar gesig. Sy is nie ryk nie, maar haar dogter is haar enigste en die paar eiendomme is nogal iets werd, en dink ek die seegroen broekpak sal goed wees, met 'n paar fyn sandaaltjies, sy hoor die Kaap is baie informeel wat kleredrag betref . . .
En toe word die vlug geroep, en die gesprek is op 'n end en ek sit opgeskeep met 'n storie sonder einde.
Wat sou die bruid aangehad het, en was daar ooit walvisse?
ue: ue: ue: