Thread Rating:
  • 0 Vote(s) - 0 Average
  • 1
  • 2
  • 3
  • 4
  • 5
'n Mooi Koppie Tee
#1
(Drink maar gerus 'n koppie saam met hierdie een!)

“Come have a cup of my English tea,” lui die e-pos boodskap van Liz. Dadelik maak ek ‘n afspraak want haar English tea kom in ‘n klein teepotjie vir twee, met gemakstoele voor die kaggel en die telefoon, uitgetrek. Ons kuier dan maklik vir ‘n uur of wat oor kinders, die lewe en ruil beloftes van hoop uit.

Ek soek noudie dag ‘n mooi handgemaakte teemus by al wat kerkbasaar en tuisnywerheid op die dorp. Niks! Op langelaas gee iemand vir my haar geskenk-een in die hoop dat haar vriendin weer vir haar een sal maak. Mense maak nie meer tee in ‘n pot nie want ‘n sakkie per koppie is vinniger, sê hulle. Baie dankbaar is ek met teemus Europa toe. Maar híér sien ek, is die mooigeit van tee die verskeidenheid vrugte en kruietees in ‘n houer met vakkies. Tee word nie in ‘n pot gemaak nie. Dit word ook sommer net uit ‘n beker gedrink met die lepel so staan-staan vasgedruk met die duim. Vriendin Louise moet liewer nie hier kom kuier nie want tee wil sy nie uit ‘n beker drink nie. Maar ‘n spesiale beker tee, onthou ek, was wanneer Anlerie so met die groot, wit beker van die boonste woonstel af kom inloer het om gou te hoor hoe dit gaan en wat ek doen. Sy hou van tee met genoeg vars, volroommelk uit ‘n bottel, nie ‘n boks nie.

Ek en Doll gaan stap noudie Sondag. Soos gewoonlik stap sy nie verby mense nie - begin van ver af al groet en gesels en al die gepluk en gepor laat haar net meer vasbeslote vassteek. Oplaas word ons toe sommer by die wildvreemde Franse dame se huis ingenooi. By die voordeur in en deur die stikkende rookkolom, verby die swaarbelaaide rakke met boeke, tydskrifte en koerante, skuif-skuif verby die twee katte en mik verby die groot, steekhaar hond wat vriendelik sy stert waai, tot by die kombuistafel wat oor die agterplaas uitkyk. Eende en ganse raas agter die groot, gordynlose vensters met dowwe snoet-en pootkolle. Die vriendelike mevrou draai om Doll en bied vir my tee aan uit Ouma se beker wat nog warm is, word sommer so onder die kraan uitgespoel en ek kry soet-soet tee – een of ander Marrokaanse tee wat ek sweer ek nóóit weer sal drink nie, nie eers vir skok nie! En so hoor ons van die verlange na ‘n eie kindjie en die hartseer dat dit nooit kan wees nie. ‘n Paar minute later stap ons weer huistoe met ‘n belofte dat ons weer sal kom.

Dis so anders as tannie Joey se tee. Die eg Engelse dame, sonder kind of kraai, wat kamers aan studente verhuur het, en Jasper kon vriende nooi vir tee op ‘n Sondagmiddag. So is ek toe genooi vir tee in die ruim ou huis met sy roostuin aan die voorstoep kant. Pienk en wit rose het oral in die huis hul soet geur versprei – rose wat sy self soggens gepluk het. Tee is bedien op ‘n trollie met koppies en pierings, fyn koekvurkies en varsgebakte koek. Glo nie aan oukoek nie – bak elke dag vars. (Het menigmaal gewonder wat sy dan met al die koek gedoen het wat oorbly – Jasper het ook nie geweet nie.)

Man, die Ingelse het darem net ‘n flair vir teemaak. Koos van Zimbabwe kon altyd die lekkerste sterk tee maak in ‘n pot. Het ook net Five Roses gebruik en die melk moet eerste ingegooi word. By Guy het ek Earl Grey tee leer ken en maak nou nog vir myself ‘n lekker koppie tee by kerslig wanneer ek alleen is.

Ilse se tee maak ‘n kreatiewe draai uit die outydse mooi want elkeen se tee word in ‘n mooi koppie en piering geskink wat sy iewers raakgeloop het. Sy koop nie stelle nie, maar een van elk wat bydrae tot ‘n interessante kuier rondom die tee en daarmee saam, klein plaatkoekies met soet konfyt. Ek onthou nog toe Noritake teestelle gesprekke om die teepot gedomineer het en dan natuurlik, die blommige sjarme van Royal Albert wat nog steeds my hart steel. Cecilia het teelepeltjies bymekaar gemaak met hul reise na verskillende lande en dit was altyd groot pret om “tee te drink uit Holland” met ‘n klein blou, delft klompie op die teelepel.

Rooibostee.
Ons vlieg altyd ‘n voorraad saam uit Suid-Afrika en gaste vind die bossietee heerlik of hou gewoon nie daarvan nie. Saam met tuisgebakte beskuit en tee uit ‘n blikbeker, het ons interresante gesprekke oor ‘n spesiale land met ‘n unieke geskiedenis van versoening.

Die tradisie van teedrink strek van die Ooste tot die Weste, Noorde tot die Suide – elkeen met sy eie spesialiteite en kunstradisie. Die klein Turkste glasiekoppies met soet, warm appeltee; die teetradisie van die Noord-Afrikane waar die manne in ‘n luidrugtige hurkkringetjie sit met ‘n klein-klein gasstofie waarop die tee gekook word. Dan word dit vanuit ‘n hoogte in ‘n dun straaltjie geskink in elke koppie (sonder om te mors) en natuurlik, baie suiker. So kuier hulle dan laggend en vrolik die teepouse om in Frans.

So is die kunstradisie van tee gesellig, kalmerend, verwelkomend, genesend. ‘n Tradisie wat sê, jy is belangrik genoeg sodat ek tyd neem om na jou storie te luister.
“Come along inside … We’ll see if tea and buns can make the world a better place.” – The Wind in the Willow
In ons vinnige wêreld van tegnologie en vooruitgang het ons die kuns van teedrink verdrink met ‘n beker langs die rekenaar, kommunikeer per e-pos of sms met ‘n vreemde rukkerige beeld van ‘n stom persoon wat bekend lyk, maar wat ek nie kan aanraak met woord of hand nie. Snaaks dat onpersoonlikheid persoonlike kontak oorgeneem het – seker maar veiliger so. Ons het tog so baie om te verloor.

Dan is daar tee vir Jesaja Â…
die jong Ovambo wat by ons in die tuin gewerk het elke Saterdag. Het hom altyd sterk koffie met melk en twee opgehoopte teelepels suiker gegee – hulle hou mos van soet koffie – saam met sy brood. Tot eendag, toe ‘n duidelike stem met my praat oor hoe ek gaste hanteer…
Toe drink Jesaja nooit koffie nie want hy het ‘n maagprobleem. Altyd swart tee met geen suiker nie, asseblief!
Reply
#2
En hier kuier ons alweer so lekker saam met jou! Dankie Hantam!

Ons moet 'n plan maak om saam tee te drink! Maar dalk hier by my! Smile

:bunch:
Reply


Possibly Related Threads...
Thread Author Replies Views Last Post
  'n Koppie boeretroos in China Pronkertjie 0 2,998 Less than 1 minute ago
Last Post:

Forum Jump:


Users browsing this thread: 1 Guest(s)