South Africa Info Forums

Full Version: Dit gaan net oor God
You're currently viewing a stripped down version of our content. View the full version with proper formatting.
God alleen maak saak. Net Hy tel. Ek besef elke dag meer en meer dat geloof nie oor myself gaan nie. Ek is lankal uit die hoofrol van my lewe uitgeskryf. God is nou die belangrikste. Daarom bid ek nie meer dat Hy dinge vir my moet doen net om my lewe makliker te maak nie. Ek weet mos Hy is nie in my diens nie. Nee, dit werk net mooi andersom. Ek is geroep om God se heerlikheid te weerkaats. Waar die Here loop, daar wil ek ook graag loop, waar Hy vertoef, wil ek vertoef. Sy wil is my daaglikse brood; sy goedkeuring my enigste begeerte.

Ek speel vandag en elke ander dag slegs vir 'n Gehoor van Een. Christus se stem tel 'n volle 100% in my lewe. Net sy sagte hand op my skouer maak regtig saak. Dis my siel se brandstof. Sy tevredenheid oor my is die enigste dryfveer in my lewe. Nee, ander mense se erkenning maak regtig nie meer so baie saak nie. Hulle status of geld beïndruk my lankal nie meer nie. Christus is my enigste Goud. My skatte is belê in die hemel, my vreugde is in Hom.

(Met erkenning aan Stephan Joubert)