South Africa Info Forums

Full Version: Cecile Cilliers Rubriek
You're currently viewing a stripped down version of our content. View the full version with proper formatting.

My jongste sussie het die afgelope week ook 70 geword, om sodoende ouderdomsgewys by die res van ons aan te sluit. Wat ons oueres onvermydelik tot ’n mate van nadenke gestem het – soos wanneer jou oudste kind skielik op ’n dag vyftig word. Maar toe hoor ek gister wanneer oor die nuus dat die oudste vrou ter wêreld onlangs op die ouderdom van 116 jaar in Ecuador dood is. Dit gee weer perspektief.

Ter wille van die verjaardag neem haar man vir sus Polla Valle toe vir Â’n paar dae.

Vic Falls, sê die Engelse, maar meestal sê ons mos sommer Valle, soos ons Wildtuin sê vir die Kruger, want selfs Augrabies – ’n wonderwerk op sy eie, daardie plat, droë wêreld en dan die stroom water wat af, af, oor die kranse val – kan nie met die Valle meeding nie. Volgens die brosjure wat Polla met familie en vriende gedeel het, is die Victoria-valle een van die sewe natuurwonders van die wêreld, en soos Tafelberg, ’n wêrelderfenisgebied.

Almal wat al by die Valle was, het iets aan Polla mee te deel gehad oor die ongelooflike skoonheid daarvan, en daar is vurig gedebatteer of dit ten beste vertoon wanneer die Zambesi in vloed is, of wanneer daar droogte heers en die water dan weinig meer is as ’n stroompie. Want elkeen weet dat toe hy of sy die Valle gesien het, dit tóé op die heel mooiste was.

(Ek was seker twintig jaar gelede daar, maar ek onthou dat ek die laaste 100 treë van die uitsigpunt af, opgewonde begin hardloop het, totdat John my ewe droog daarop gewys het dat die Zambesi baie eeue reeds oor die afgrond stort en bepaald nie gaan ophou voor ek daar aankom nie . . .)

Daar was mooi stories te vertel – ja, daar is met afguns geluister omdat Polla gaan, maar ook met blydskap – maar die mooiste was dié van haar jongste.

Clara en haar man Pieter is viertrek-entoesiaste, en saam met ander familie en vriende wat lief is daarvoor is hulle Juniemaand deur Namibië en verby die Caprivi op Valle toe.

Iemand onderbreek haar storie om te sê dat hulle ook daardie reis deur Namibië onderneem het, en 17 pap wiele gehad het!

Hulle groot Cruiser kon nie die kleiner spoor vat nie, en die klippe langs die pad het die bande flenters gesny.

Clara lag. Die enigste pap wiel op hulle toer, sê sy, was iemand se noodwiel, want dié was onder die buik van die motor, en nie agterop soos die Jeep s’n nie, en het vol dorings gesteek . . .

Toe hulle vyf by die Valle aankom, vertel sy, stap hulle tot waar dit moontlik is om te sien hoedat die water oor die wal afstort. En daar staan ’n groep Nigeriërs, mans en vroue, in tradisionele gewaad, die leier ’n groot, donker man in wit, wit kalot op die kop. Een van die Nigeriese vroue sit op ’n rots langs die rivier, agter haar die waas van die ‘rook wat donder’. En in ’n sterk altstem sing sy: O Lord my God when I in awesome wonder . . .

Toe die vers klaar is, bly sy stil, maar die groepie Suid-Afrikaners pleit, nee, asseblief, sing nog, en val toe saam in vir die refrein: Hoe groot is U, hoe groot is U . . .

Almal se oë is nat, vertel Clara, en oor die groot Nigeriër se wange stroom die trane. Mamma, eindig sy, maak jou maar klaar en pak die snesies. Die Valle is ’n emosionele ervaring.