South Africa Info Forums

Full Version: Die vreugdes en irritasies in ‘n multi-kulturele kantoor.
You're currently viewing a stripped down version of our content. View the full version with proper formatting.
Die vreugdes en irritasies in ‘n multi-kulturele kantoor.

Die eerste groot voordeel is dat as enige geloof of kultuur ‘n dag van viering het, kry ons almal kos en wie kan nou nee se vir ‘n lekker warm aartappel samoosa! Natuurlik leer ons mekaar ook van klein tradisies wat ons het. Ons het byvoorbeeld vir die een swanger vroutjie ‘n baba tee gegee en sy het glad nie geweet hoe om op te tree nie want sy het nie geweet dat daar so iets bestaan nie. Hoe lekker vir ons om vir haar ‘n hoop geskenke te gee!

Groot lekkerte is ook die verskeidenheid in die kantien. Ons het elke dag ‘n Europese, Afrika, Japanese, Kerrie en ‘n vegetariese hoofmaal. Partymaal maak dit maar die keuses moeilik want ai tog daardie Kerrie lyk so lekker maar dit brand tog so vreeslik!

Ek werk in ‘n groot groot oop plan kantoor – daar sit seker omtrent 100 mense op die vloer en ons sit almal in rye met ‘n rekenaar voor ons en dan is daar ‘n sentrale punt waar die drukkers is. Nou dink net aan al die kulture wat saamgegooi word op so ‘n vloer veral in Japanese maatskappy in Suid Afrika!

Wat vir een kultuur ‘n absolute sosiale flater is, is vir ‘n ander kultuur heeltemal aanvaarbaar. Dit maak vir baie interessante geluide, reuke en gesprekke. Ergste is natuurlik dat party van ons grootword met die vooropgestelde idée dat slegte tafelmaniere iets is wat jou moet irriteer!!

Hier is ‘n kort beskrywing van die dinge wat ek in ‘n dag ervaar en verduur! Geen beter plek om verdraagsaamheid te leer as in so ‘n oopplan kantoor nie!

Die dame wat langs my sit – regtig ‘n baie deftige dame – ek sien haar nooit in dieselfde klere nie en haar grimering is altyd perfek – wel sy suig haar tande skoon, ongelukkig nie net na ete nie maar die hele dag. Ek het nou al probeer om dieselfde geluid te maak sodat my man kan verstaan wat ek hoor maar dit is heeltemal ontmoontlik en dit maak nie my tande skoon nie!

Aan my ander kant sit ‘n man wat baie lief is om etenstye in die son te gaan sit. Nou almal ken die Durban sonnetjie, dit is baie baie warm, selfs in die winter. Wel ek is ook lief daarvoor om in die son te sit maar ai toggie waar is daardie deodorant! Die man ruik sommer baie baie ryp as hy van ete af kom. As hy nie etenstye buite gaan sit nie bly hy net by sy lessenaar sit en haal al sy kos uit wat so vreeslik sterk ruik. Dit word dan met groot genot en geluide geniet en na die tyd moet hy eintlik sy lessenaar skoonvee want daar het soveel kos by sy mond uitgespring. So nou wat, hoop maar die 30 minute etenstyd gaan vinnig verby of sukkel met ‘n neus wat heeltyd wil afspring van my gesig af oor die reuk vir die res van die middag!

Die man agter my is mal daaroor om so ‘n deuntjielose wysie te fluit terwyl hy werk. Ek het hom al gevra om op te hou maar dan vra hy altyd waarmee moet hy ophou want hy is nie eers bewus daarvan dat hy fluit nie!

Dan het ons nog die snuiwer, die arme persoon het regtig ‘n permanente verkoue en hy geniet dit vreeslik om so vreeslik hard en lank te snuif met die gepaste “kry uit die keel uit” geluide daarna. Die hoeser, waaroor ek bietjie bekommerd is want ons het mos nou hierdie vreeslike gevaarlike weergawe van TB hier in Natal en geen mens weet of die hoesery van TB is nie en dan natuurlik die winde opbreker! Hy glo duidelik daaraan om permanent vir die kok komplimente te gee deur sy waardering te wys met ‘n baie luidkeelse wind wat hy opbreek!

Enigste ding wat omtrent taboe is vir al die kulture is om wind te breek na die onderkant toe! Dankie tog!!!

Nou wonder ek net wat gaan gebeur, gaan ons almal maar begin om al die ander se slegte gewoontes aan te leer of gaan die goeie maniere wen en almal gaan die goeie gewoontes aanleer. Ek hoop van harte dat dit wel die tweede opsie gaan wees, want anders sal ons beslis moet kantoor terugbring in die werkplek!