South Africa Info Forums

Full Version: Dis nou CASS
You're currently viewing a stripped down version of our content. View the full version with proper formatting.
Oór die ses voet, blonde krulhare, growwe hande en lang beenhare – die Zimbabweër met ‘n hart soos ‘n minibustaxi van Hammanskraal – altyd plek vir nog mense om te help en lief te hê.

Almal het al probeer om van haar ‘n dame te maak met grimering, rokke, elegante passies in hakskoene en selfs die boek-op-die-kop idee. Sy lag wydmond daaroor, doen mee, geniet die aandag en is die volgende dag maar weer net, Cass van Zimbabwe. Sterk soos ‘n trekos en kan menige man in die grond werk met stamina en fisiese krag. Saam met haar kan jy ook enige tyd in die strate van Hammanskraal loop, want die manne met ‘n motief sukkel nie sommer nie – het respek vir haar, groet net. Een het al eendag sy geluk probeer, maar sleg daarvan afgekom – net een van haar harde regters. In al hierdie mansgeleende uiterlike, het ek wel die mooiheid en vroulikheid gesien - sy blom van diep binne wanneer sy na die swart tentkerk gaan op ‘n Sondag in haar helder blou blomrok, bietjie te blou grimering en ietwat oor-die-lyne lipstiffie.

Sy het ‘n uithouvermoë soos min en het gereeld padwedlope gehardloop vir haar vriende van Spar in Hammanskraal. Só kon sy gratis inskryf en ‘n t-hemp kry. Toe sy begin lomp raak en haarself beseer het, is ‘n pompie in haar agterkop geplaas om die vog te dreineer. Nou gaan dit baie beter. Onthou nog die keer toe sy in die bed gelê het met ‘n beseerde enkel en hoe sy die bederf van ‘n koppie tee, ‘n rugsmeer en ‘n kussingpof geniet het. Sy doen dit gemaklik vir ander – trek sommer by doktersvriende in oor die straat en help skoonmaak, kook, pas die honde op en is nou deel van die familie. Op Grace se troufoto staan Cass in haar blou blomrok – deel van die familie.

Sy is altyd reg vir ‘n grappie en lag dan oopmond daaroor. Die aand toe die reuse spinnekop sy opwagting in ons huis gemaak het, manlief was weg. Cass het gou oorgehol en lekker gelag – tennis gespeel met die “dier”. ‘n Rukkie later het ek weer geroep want daar was nóg een. Uit haar maag het sy gelag en gesê, sy het gewéét sy sal weer kom want hulle loop in pare maar sy wou my nie bangmaak nie!

Cass hou nie van skryf nie, maar is kreatief met bokse en karremaak vir die kinders van die kleuterskool. Almal wil in haar klas wees want daar word gespeel en gelag en almal kry elke oggend sulke lekker stywe drukkies. As daar geraas en gemors word, maak dit nie saak nie. Sy wéét van kind wees en kind bly in ‘n groot wereld.

Haar pa het vir haar seëls van die wêreld bymekaar gemaak. Cass bid graag vir die wêreld en kan áltyd die Here se stem hoor – daar staan mos iewers, die Koninkryk behoort aan die kinders en ons moet soos hulle word...

Dankie Cass.

:thx:
Hantam... Cass klink vir my na iemand want 'n mens nie sommer sal vergeet nie.

:bunch: