South Africa Info Forums

Full Version: Grande Poubelle
You're currently viewing a stripped down version of our content. View the full version with proper formatting.
Grande Poubelle – ‘n dag om te merk in die dagboek.
Van drieuur af mag ons begin uitsit. Ons vorm ‘n tou van mense om die rommel uit die stoorkamer van hand tot hand aan te gee tot op die sypaadjie by die voordeur waar alles opgestapel word. Niemand gee om om ‘n draai om die rommel te loop nie en sommige stop selfs om half-geïnteresseerd daardeur te trek, blaai. Één wil selfs weet of ons nie ou juwele het wat ons wil wegmaak nie! ‘n Swartman kom opgewonde nader en beduie dat ons al die ou matrasse vir hom moet hou. Hy gaan net gou iemand met ‘n voertuig reël om dit te kom haal. Vinnig is hy ook weer terug en baie dankbaar laai hy en ‘n maat dit op en vertrek glimlaggend, tevrede oor dié fonds. En ek weet, hy is van Afrika!

Een keer per jaar mag elke huishouding in Brussel ‘n sekere hoeveelheid growwe huisvuil uitsit wat nie saam met die weeklikse huisvuil opgelaai word nie. Dit word dan gratis verwyder. Om vóór die trok met die ongenadige guillotinelem uit te beweeg, is die eintlike manier van doen want dan kan ‘n mens nogal bargains optel, vertel ons bure. Tot groot skaamte van Boet vir sy ashoopouers, stap ons die straat af – onseker-opgewonde totdat ons sien ander doen dit ook – motors wat stop, krap en oplaai; respektabele mense in pakke en hofskoene wat terugstap om te kyk en op te lig tussen potplante, planke, ou beddens, stukkende laaikassies, frituurpan, vuil elektriese toebehore, stowwerige t.v.’s, speelgoed en alles wat nie meer werk nie, nie meer mooi is nie en dit wat gewoon nie meer nodig is nie. So kry ons toe vir Dolla ‘n splinternuwe speelding, vir Rebekkavoël se hok nog ‘n paar nuwe stokkies, die ou stoel wat nog steeds ons rekenaarstoel is en dan die fonds van die dag – manlief se silwer oumansfiets met die lig voorop wat lyk soos Oupa se myn koplamp en die ou verslete bruin leersitplek! Met ‘n nuwe sitplek en bande, het die fiets nog vir jare winkel en park toe gery.
Nog lank praat ons oor die planke, beddens, matte, stoele wat dankbare huise in een van Afrika se plakkerskampe kon word.

Herstelwerk is ‘n ander gedoente – gooi liewer weg en koop ‘n nuwe, is die gewoonte hier. Toe ons derdehandse Miele een oggend gly, gly en nie water uitpomp nie, besluit manlief om haar om te keer en self te diagnoseer. Kan net die pomp wees, besluit hy, en met die stukkende orgaan is hy toe weg om met ‘n nuwe een van ‘n paar euro duskant die vyftig, tuis te kom. Sorgvuldig teruggesit en ou Miele was nog steeds ons wasgoed – ‘n oorwinning oor die moderne verbruikersmentaliteit van weggooi.
Ek dink aan Nederlandse vriendin, Harriet, se kosaanpassing ná Afrika. Sy het die oorskietkos van haar pasiente begin eet net om dit nie te moet weggooi nie want so het hulle menigmaal vragte kos en Bybels uitgedeel in Afrika - ‘n lewensgeskenk en nie ‘n reg soos hier nie.

Ek sit noudie dag in die motor by die winkel en hou die jong mannetjie dop, dik serp om die nek en groot winkelvoorskoot aan – seker ‘n skolier of student. Besig om elke nommer op elke pakkie vis, vleis, kaas, joghurt in te scan. Dan word die pakkies met ‘n boog in die groot silwer vullisbak gegooi. Nou en dan word ‘n bakkie joghurt gedruk-druk dat dit so tuit, die dekseltjie afspring en die joghurt met ‘n blops uitspat. Dan vee hy vieserig sy hande af aan die voorskoot en begin dan weer die volgende nommer inscan. Dis kos wat weggegooi word – verby die -30% vermindering en die vervaldatum! Kan dit regtig nie meer gebruik word nie? Nie eers vir mense wat nie omgee om in vullisdromme tussen vlieë te krap vir afvalkos nie? ’n Mens kry hulle hier ook, nie net in Afrika nie.

Ek onthou nog hoe ons altyd teen sononder se kant gewag het op die boks broodjies wat van Hax Snacks in Windhoek afgekom het. Hierdie wegneemrestaurantjie het elke dag vars broodjies gemaak en gesmeer en die wat nie verkoop het nie, is by die sending afgelaai aan die einde van die dag. En dan was daar nog die Duitse bakkery in Klein Windhoekweg. Varsgebakte koek was soggens onbetaalbaar duur, maar die lekkerste ou-koek is aan die einde van die dag teen ‘n sakpas halfprys verkoop!

En nou wéét ek, ék kan nie dans nie en daarom sê ek dié werf is klipperig.
Ek wíl nie vir dié man wat my dra sê hy ruik sleg nie, maar ai, die Zoeloes sê hoeka, as jy vir ander gee, berei jy vir jouself ‘n maaltyd voor!
Dit laat my dink aan Maandagaande in Amsterdam! Splinternuwe goed was soms uitgesit!

Dankie Hantam!

:bunch: