South Africa Info Forums

Full Version: Maties en Tukkies op oorlogspad oor Afrikaans
You're currently viewing a stripped down version of our content. View the full version with proper formatting.

Marlene Malan
Stellenbosch

“Ek het oor hierdie dag gedroom. Ek het gedroom oor hoe die studente van Stellenbosch opstaan en sê: Ons het ’n stem. Die universiteit moet ophou witvoetjie soek by die regering.”

Só het Jared Abels, ondervoorsitter van die nuwe Matie-studente-organisasie Adam Tas, gister by die simboliese stigtingsbyeenkoms gesê.

Adam Tas sal hom as studente-organisasie voortaan beywer vir die behoud van Afrikaans as onderrig- en voertaal hier.

Dié organisasie, sê die voorsitter, Roelof Nel, “is ’n waterskeiding in die geskiedenis van Stellenbosch. Vandag staan ons as studenteleiers op en sê hard en duidelik: daar is báie studente aan die US wat Afrikaans praat en in Afrikaans wil klasloop. Swart, bruin en wit studente. Afrikaans bring ons nader aan mekaar. Mense wat voorheen verdeeld was, word deur Afrikaans saamgesnoer.”

Tukkie-studenteleiers het ook die afgelope week hul stemme dik gemaak oor Afrikaans.

Hulle het aan Rapport gesê die tyd is verby dat akademici en die universiteitsbestuur namens hulle praat oor die behoud van Afrikaans as onderrigtaal. Volgens hulle sal dié “noodkreet” voortaan op ’n gestruktureerde manier gehoor word.

Mnr. Ernst Roets, verlede jaar se voorsitter van die Tukkie-studenteraad en nou voorsitter van Solidariteit-Jeug, het aan Rapport gesê ’n omvattende veldtog vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal op die kampus begin binnekort. “Dié veldtog behels gesprekke met die universiteitsbestuur, proteskonserte, versoekskrifte en ander protesaksies om ons studente se misnoeë met die hantering van Afrikaans hier uit te druk.”

In sy toespraak het Abels gesê “ons hoor alewig van diversiteit/transformasie en hoe almal dit net aan ras of taal wil koppel. Is ons dan so dom om te dink dat diversiteit en transformasie nie binne Afrikaans kan plaasvind nie?

“Suid-Afrika het vergeet watter sterk stem jeugdiges ook kan hê. Ons, as die Adam Tas-vereniging, sê ons wil ’n Afrikaanse kampus wees. Dink oor wat ons sê, want ons is die toekoms van Suid-Afrika. Moenie veralgemenings maak soos dat dit net wit mense is wat Afrikaans by dié unversiteit wil hê nie. Dis die grootste fout.

“Die US moet ophou witvoetjie soek by die regering, wat duidelik dubbelstandaarde stel – ’n regering wat klem lê op moedertaalonderrig, maar die universiteit dan op ’n subtiele manier dwing om te verengels.”

Die simbool van die anker wat gister voor die rektor, prof. Russel Botman, se kantoor geplaas is, “is om te wys die US dryf nie op ’n eiland in die ruimte rond nie. Die US bestaan binne ’n konteks en daardie konteks is die Wes-Kaap en Suid-Afrika.

“ ’n Mens kan nie die akademie beoefen sonder ’n gemeenskap nie.

“Ons wil die US graag vas-anker sodat hy ’n rol kan speel waar hy is. Ons as Universiteit van Stellenbosch moet geanker bly in ons konteks.”

Nel sê Adam Tas het ontstaan uit studente se gesprekke met mekaar.

“Daar is ’n sterk stem dat dié plek ’n vaste plek vir Afrikaans moet wees.

“Adam Tas is hier om Afrikaans te bevorder vir die studente van Stellenbosch.”

mmalan@rapport.co.za