South Africa Info Forums

Full Version: Hanks se firma wil fliek oor Oscar Pistorius maak
You're currently viewing a stripped down version of our content. View the full version with proper formatting.
Joylene van Wyk


Londen. – Die wonderseun van paralimpiese atletiek, Oscar Pistorius, was gister baie beskeie oor berigte dat die Hollywood-ster Tom Hanks se maatskappy, Playtone, ’n rolprent oor hom wil maak.

Pistorius is ’n gestremde atleet wat op koolstoflemme hardloop nadat sy been kort ná sy geboorte onder die knie afgesit is.

Die Londense Sunday Times het gister berig Playtone-woordvoerders sê die maatskappy bie om die regte te kry vir ’n rolprent oor Pistorius.

Pistorius, wie se sukses as paralimpiese atleet vir baie mense as inspirasie dien, mik nou tans ook daarna om in 2008 in die Olimpiese Spele in Beijing teen nie-gestremde atlete mee te ding.

Amptenare van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) sou die afgelope naweek in Monaco vergader het om te besluit of sy koolstoflemme hom bevoordeel en of dit as die ekwivalent van hardloopskoene beskou kan word.

Pistorius het gister tydens ’n telefoniese onderhoud aan Beeld gesê hy voel geëerd dat Hanks en sy rolprentmaatskappy dit oorweeg om hom op die silwerdoek te verewig.

Hy is al voorheen deur Amerikaanse rolprentmaatskappye genader, maar Hanks se belangstelling is ’n nuutjie.

“Daar is egter nog niks vasgemaak nie,” het hy gesê.

Hy kon nie onthou of Playtone een van die Amerikaanse maatskappye was wat hom genader het oor die regte vir ’n rolprent nie.

Hy is veral opgewonde oor die feit dat hy dalk homself sou kon speel indien Hanks of iemand anders wel ’n rolprent oor sy lewe sou maak.

Pistorius het ook gesê hy hoop hy sal wel in Beijing kan deelneem.

“Ek sien geen rede hoekom ek nie sou kon deelneem nie. Indien ek nie toegelaat word nie, gaan ek dit egter nie daar laat nie. Daar is altyd ’n ander uitweg.

“My hardlooptye kom nou baie na aan die kwalifiseringstye en die Spele bly vir my ’n mikpunt. Ek werk hard om dit te bereik.” Bron: Die Beeld