South Africa Info Forums

Full Version: Ek verlang na my agterdeur
You're currently viewing a stripped down version of our content. View the full version with proper formatting.
[COLOR="Purple"]
Deur Gideon Brückner

Ek mis ’n agterdeur. Daar waar jy soggens in jou pajamas op die trappies kan slurp aan ’n dik beskuit wat sag word in ’n beker koffie wat te warm is om te sluk.

’n Agterdeur wat altyd oopgestaan het. Wat gesê het “kom in” – al was dit nêrens op hom geskryf nie. Daar waar die dominee ook nooit ingekom het nie. Daar waar jy stilletjies Saartjie se briefie uit die algebraboek se plastiekoortreksel uitgehaal het en oor en oor kon lees terwyl Ma in die kombuis agter jou besig is om al die versies van Daars bemindes in die hemel hou vir hou, die wit skottel deeg in te stamp.

Dit is daar waar jy jou fiets se ketting en ballbearings in paraffien gewas het en Ma se soplepels krom gebuig het op die Raleigh se bande.

Dit is daar waar jy kaalbolyf met nat oë moes deursit en knyp met ’n SAS&H handdoek om jou nek terwyl Pa happe uit jou hare pluk met ’n geleende knipper omdat die haarsnyprys by Oom Albert opgegaan het van 30 na 40 sent.

Dit is daar waar die pelle kom kuier het en dit is daar waar mense ingekom het om net ‘hallo’ te sê, antie Sophie om te skinder of die Grobbelaar-snotneusies as hulle kom suiker of sout bedel “tot môre asseblief antie”.

Dit is daar waar jy kon drome droom en die wêreld in die oë kyk.

Ek mis nie ’n voordeur nie. By ons huis daar in Uitlanderstraat in Vryheid was die voordeur die eindpunt van ’n donker gang. Die voordeur was altyd toe. Dit is ook nie baie oopgemaak nie. Dit was die ingang tot voorhuis en ’n geen-toegang-gebied vir ons kinders.

As die voordeurklokkie gelui het, het Ma eers haar hande aan haar voorskoot afgevee, die radio afgesit, ons by die agterdeur uitgejaag en dan met ’n “ek kom!” in die donker gang verdwyn terwyl sy die voorskoot losmaak en êrens by ’n oop slaapkamer ingooi.

Want as die klokkie gelui het, was dit gewoonlik iemand wat ons nie geken het nie, of dominee of die balju of ’n polisieman – soos die keer toe hy kom sê het Ouma is dood.

Vir die voordeur het ons respek gehad, was ons voor bang en wou ons nie beter leer ken nie. As iemand daar van buite af deur die voordeur inbegring is, was dit uit respek, maar nie iemand wat om die kombuistafel sou sit en wag vir ’n koppie koffie of ’n sny warm brood nie.

My deur staan heeldag oop – maar net stilte het hier ingeloop . . . so sing Lucas Maree oor sy woonstel se voordeur in Pretoria – of dalk is dit Hillbrow of Seepunt?

Of dalk ons woonstel in rue Renon in die oostekant van Parys tussen rooi skoorsteendakkies en ysterbalkonvenstertjies.

Ek mis ’n agterdeur. Wat hier nie is nie. Ek haat die voordeur, wat hier is.

Want dit is ’n voordeur in Parys wat jou vertel wat om te doen en wat om nie te doen nie en wat van jou verwag sal word as jy daar uitstap.

Stap jy daar uit, is dit jou kultuur teen hulle kultuur. Jy wat probeer verstaan teenoor hulle wat glad nie wil verstaan nie.

My voordeur is ’n staalversterkte plank in ’n reghoekige gat wat met my praat. Wat my elke dag daaraan herinner dit gaan nie oor die inloop nie, maar die uitloop.

Stap jy by daardie voordeur uit, is dit jy wat die Franse in die gesig moet kyk – of nie wil kyk nie. En weet dat jy nie eers moet probeer om Frans te wees nie.

Jy sal dit nie regkry in ’n honderd jaar nie. En hulle sal jou ook nie toelaat om te probeer nie. Aan jou uitloop word jy geken, geklas, gemeet, onthou, vergeet en gefile. Soos die Australiër Sarah Turnbull ook in haar sketse Almost French ervaar het: Jy hardloop nie gou bakkery toe hier onder op die hoek in jou sloffies en drafbroekie nie. “Jy trek aan” soos my Ma gesê het, want hier word geglo jy trek altyd reg aan – nie om jouself te laat goed voel nie, maar om ander mense te laat goed voel.

As die gewoonlik vriendelike madame by die bakkery vanoggend deur jou kyk en vir die ou oom skuins agter jou eerste sy gewone halwe warm baguette van die rak afhaal, gee dan jou deurmekaar hare en gekreukelde sweetpakbroek die skuld en nie monsieur Crozier wat dalk voor jou ingedruk het nie.

Jou uitloop word beplan, bedink, bepaal deur die weer, die tyd van die jaar en wat jy vandag gaan doen.

Beplan jy reg, stap jy met ’n lied in jou hart by die voordeur uit en lag Parys saam.

Maar doen dit reg – want daar is nie ’n agterdeur om na terug te kom waar jy lekker kan sit en koffie mors op jou pajamas nie.

Nie ’n agterdeur om na terug te keer as jy êrens teenspoed optel tussen jou uitloop en jou inloop nie. As jou voordeur soggens agter jou toeklap en jy kan nie sê “Parys, hier kom ek” nie – gaan jy teenspoed optel. En jy gaan verlang na ’n agterdeur.

[/COLOR]