South Africa Info Forums

Full Version: Vir die verlustig en die verwilder
You're currently viewing a stripped down version of our content. View the full version with proper formatting.
[COLOR="Purple"]Beeld-deurloop

Cecile Celliers

Hoewel die onverwagte hitte Saterdag weer talle mense strand toe gelok het, begin die herfs nou winter se kant toe te draai.

Sondag, toe ons die pad vat na die olyffees op Riebeeck-Kasteel, was die dag sonnig, maar die luggie het tot 12:00 nog geniepsig gebly.

Maar o, die Swartland was móói. Onder 'n loom najaarson het die laaste rooi van die Cabernet- en Pinotage-wingerdblare skerp afgesteek teen die olyfboorde se silwergrys loof.

Olea europaea van die Oleaceae-familie is 'n mooi boom; hier word hy gewoonlik op ons eie wilde olyf, die swartolienhout, geënt.

Nie dat die olea africana se vrugte nie eetbaar is nie, maar uit die Europese olyf se vrug word die gesogte, donkergroen olyfolie gepars.

Mens sou dit straks nie dink nie, maar Spanje is die grootste olyfolieprodusent ter wêreld, met Italië 'n kortkop daaragter. Maar die olyf het natuurlik 'n veel, veel ouer geskiedenis as dié van kommersiële olyfolie.

Op Kreta is olywe sedert 3500 v.C verbou en nie veel langer daarna nie, ook in die Semitiese lande. Dit was immers 'n olyfblaar wat die duif toentertyd vir Noag na die ark toe teruggebring het; die teken tóé van versoening tussen God en mens, wêreldwyd steeds die onderlinge vredesteken.

Maar eintlik beteken die olyf kos en in die Mediterreense wêreld kan mens jou kwalik 'n maaltyd sonder olywe voorstel.

Op Siprus het ek en John gekyk hoedat 'n meisiekind die groen olywe met 'n groot, gladde klip 'n kraak in kap.

Dan word dit in sout gelê vir 'n dag of wat, en dan bedien in olyfolie, tiemie en baie knoffel.

Dit trek die kiewe saam, dis so galbitter, so vrank, maar saam met wyn is dit 'n heel aanvaarbare maal.

Mits daar brood ook is.

My vriend Taki Xenopolous wat as jongeling uit Siprus na Suid-Afrika gekom het, het graag vertel hoe arm hy grootgeword het: Elke olyf is vier happies werd, het sy ma gemaan en dan moet die pit kaal gesuig word . . . Maar op Riebeeck-Kasteel was daar van sodanige karigheid geen sprake nie.

Daar was dit pure oordaad.

Daar was olywe te kies en te keur, te proe en te koop: alle groottes, alle soorte, alle kleure, alle geure, van groot groenes in olie en kruie, tot klein swartes in bloubessiesap ingemaak.

Daar was olyfpesto en olyftapenade en natuurlik olyfolie in elke moontlike baadjie aangebied. Van alles kon jy proe.

Daar was mandjies brood langs die olie, borde beskuitjies langs die smere, en jy kon brood in die olie doop, en smeer op die koekies smeer en proe en proe en weer proe om eindelik, teësinnig, te besluit.

Ja, sug jy dan, dié een moet saam huistoe, en ag, miskien dié een ook maar.

Ek het olyfolie gekoop en 'n stuk gorgonzola (o ja, daar was wonderlike kase ook) en toe teruggegaan na die mooie meisiekind in die wit sjefsgewaad en 'n sjokolade-olyf-salami ook in die sak gestop.

Hoegenaamd nie tradisioneel nie en uiters dekadent.

Hiervan sal ek smal skyfies sny en krummeltjiegewys peusel wanneer die mooi herfs finaal verby is en die eerste reëns begin val.

By die olyf se romantiek, so 'n lekker aardse naskrif.

Die mooi dag en die heerlike geure (veral die kaas) het onvermydelik 'n aantal ongewenste gaste ook gelok.

Dit was nogal bevredigend om te sien hoe die lastige vlieë met 'n olyftakkie verwilder word!


[/COLOR]