South Africa Info Forums

Full Version: Geselslus in Engelse taxi droog toe op
You're currently viewing a stripped down version of our content. View the full version with proper formatting.
[COLOR="Purple"]Beeld-deurloop : Cecile Cilliers

My kinders hier in Londen sit my eerder in ’n huurmotor as om my toe te laat om op my eentjie die moontlikhede van mol- en ander treine te ondersoek.

Soms laat dit my lig geaffronteerd: is ek dan so oud, so hulpeloos – of straks so ongewoond aan ’n betroubare openbare vervoerstelsel?

Maar aan die ander kant: ek is heeltemal tevrede om in ’n taxi te klim. Want ek is ’n geselser, praat met ’n ieder en ’n elk wat oor my pad kom, ’n gebruik nie altyd aanvaarbaar vir die inkennige Engelse nie.

Sonder skroom vra ek die jong vrou langs my in die moltrein wat sy lees; wys my jou boek se titel, beveel ek vriendelik. Vra selfs die vreemdeling oorkant my om sy koerant effe hoër te hou sodat ek die agterblad kan lees, al is dit net sokker. Maar dan kan ons dalk oor 2010 gesels.

Onder my kinders se afkeurende blikke bedwing ek my geselslus, maar dit val my swaar.

Ek onthou ’n episode in my jeug, ek kwalik 13 jaar oud, en Pappa in gesprek met oom Johannes, my ma se broer. Al luisterend bied ek ook ’n opinie aan. En jy, snip, sê-vra oom Johannes, van wanneer af praat jy saam met die grootmense?

Dis my wyse pa wat antwoord: “Johannes, as jy nie luister wanneer sy saampraat nie, hoe sal jy weet wat sy dink?”

Dis nie nét praatgierigheid nie; my kontak met ander mense in ander lande maar ook in my eie, is ’n opregte begeerte om te weet wat ander mense dink.

Jan en alleman, die vrou op straat, huldig hulle die opinies wat in die hoofartikels weerspieël word, stem hulle met die beredeneerde perspektiewe in koerante en nuustydskrifte saam?

Hier, soos tuis, lees ek die koerant, laat ek toe dat die hoofartikels tot my spreek, maar luister nogtans graag wat die kreti en die pleti te sê het – oor hul eie land, Blair en Brown en Brown en Bush en die voortslepende Irak-oorlog.

En veral: Wat dink hulle van die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika in 2010?

Daarom is ek bly as die kinders verkies om my in ’n huurmotor te sit. Huurmotorbestuurders is uit die aard van hulle werk baie meer tot gesprek geneig as die stugge moltreinmense.

Buitendien, as jy langs ’n man in ’n motor sit, moet hy óf maak of hy doof is, óf jou vrae beantwoord.

Maar Dinsdag se taxirit was ’n ontnugtering.

Pragtige land, jou land, sê die drywer. Was Februarie daar. Heerlike weer, vriendelike mense, wonderlike kos. Julle moet net die misdaad onder die knie kry – in Johannesburg is ons gewaarsku om nooit alleen op straat te loop nie – en die armoede. Dit ruk aan ’n mens, die plakkerkampe, die verflenterde kinders. Ek het dit nie verwag nie . . .

Die regering werk hard aan al ons probleme, sê ek. Ook aan die paaie, die lughawens en die stadions vir 2010.

Hy’s ’n rukkie stil, toe sê hy: Dit was goedkoop in Suid-Afrika, want die pond is sterk, maar die reis soontoe was baie duur. En dis ver, veral vir ons wat gewoond is om binne twee, drie uur enige plek in Europa te wees. Ek glo nie baie van die gewone sokkerondersteuners gaan die reis aanpak nie . . .

Toe vra ek liewer nie meer uit nie.

:footie:[/COLOR]