South Africa Info Forums

Full Version: Veearts al wie kan help as ons verloor
You're currently viewing a stripped down version of our content. View the full version with proper formatting.
[COLOR="Blue"]Blouwillemaandag:

Blou Willem

Ek en my ou maters is gisteraand ná die aanddiens gou veearts toe om onsself te laat inspuit voor die wedstryd teen die Argentyne.

Van daai inspuitings wat die artse vir die honde gee voordat hulle op ’n vliegtuig gelaai word. Jy’s so ontspanne, jy kan ’n krokodil borsvoed, maar ongelukkig maak daai doepa jou ook onmenslik vaak. Jy voel kompleet jy sit in die parlement.

En nou vanoggend is ons te bang om enigiemand uit te vra oor die telling, so as ons dalk verloor het, moet niks sê nie, gaan haal net vir ons die veearts, asseblief!

Behalwe vir die kragteloosheid wat ons ou landjie weer danksy Eisjkom oorval het, is ’n ander lelike ding wat erge spanning hier om die eindtye van die Groot Bekers skep, die skielike bierdroogte van SA Verbrouery noudat ons hulle op ons nodigste het.

“ Hoe beplan hulle dan?” wil Dik Daan weet. “Hulle het mos geweet ons gaan in hierdie dae dorstiger as gewoonlik wees!

“Wat dink jy gaan in 2010 gebeur as ons ewe skielik vir die spul Iere, Ingelse en Duisters moet sê sorry folks, ons bier is ongelukkig op, maar ons behoort weer teen Kersfees voorraad te hê? Die piepols is mos nóú dors, nie eers met Kersfees nie!”

Verder voel dit vir my of ek en my ou maters die enigste Bokondersteuners is wat in die land agtergebly het. Elke Jan Rap en sy maat is al weg Frankryk toe: Jappie Pappie met sy hele gesinnetjie en die “nanny” wat die week ná die finaal sommer van daar af die kleintjies Euro Disney toe vat, dan ou Ben en sy sewe tjomme daar van Hoopstad wat hulle plase net so laat lê en besig is om volgende jaar se oes daar in die Champs de Lieslap uit te suip X en dan natuurlik al die manne wat vir sake daar is!

Oom Johnny sê hy dink Eisjkom het net een elektriesjen hier gelos om die laaste lig af te sit as ons dalk uitval. Ronnie se Verfwinkel vat agt kontrakteurs oor om hulle Frank- ryk te gaan wys in die hoop dat dié agt ouens in hulle lewe nooit weer verf by ’n ander plek as by Ronnie gaan koop nie.

En wat van adj.pres. Pietersielie Ma-Lamsboud-Nkoeka en haar formidabele gevolg en die grootkoppe van dááái siekefonds wat hulle jaarvergadering in Parys gaan hou en om ’n bietjie af te skakel van die erge werkdruk daar, elke middag op ’n ander gholfbaan saam met Kobus Wiese en David Krampliesie afslaan terwyl hulle vroutjies se inkopiesakke solank in die Lear Jets gelaai word vir die terugvaart? (O ja, verwag premieverhogings teen volgende maand.)

Die groot statussimbool is natuurlik nie of jy die uitspeel vir 7de en 8ste plekke om die Bledisloe Cup gaan sien nie.

Nee my maat, gaan jy dáár wees met Die Grote? En om nóú ’n kaartjie vir Die Grote te kan kry as jy nog nie het nie, sal jy ten minste die pous, die burgemeester van Parys of die kleinseun van Charles de Gaulle moet ken (hoewel, dalk kan jy Johan Rupert bel as jy nie daai perde ken nie.)

Vir ons gewone agtergeblewenes gaan die groot vraag wees op watter grootte skerm jy die laaste wedstryde gaan kyk.

Gaan Nefie met die nuwe plasmaskerm jou nooi, of dalk ou Kon met daai tiewie van hom wat so groot is dat jy in die bure se erf moet gaan sit om die ding te kan sien?

Dié week sal leer.
[/COLOR]

Bron: Die Beeld
[COLOR="Purple"]Kostelik - neem gerus tyd om dit te lees. Hy steek tog so goed draak met alles en almal!

:haha:[/COLOR]