South Africa Info Forums

Full Version: Pampoene En Kristantbosse
You're currently viewing a stripped down version of our content. View the full version with proper formatting.
Oktober is die dans van die jaar.
Geel, oranje en rooi blare dans die stadige wals van die Herfs totdat dit oorgaan in die vinnige polka van die laat-Herfs - blare dans grond toe vir die finale noot van die dood onder die wintersneeu. Dis dan wat ons wil sit en dink oor die mooi van die lente wat verby is, die warm van die somer en die blarewals van die herfs. Ons wil die mooi oomblikke van die jaar onthou in die koue van die wintertyd wanneer dit lyk of alles dood is…

Hulle sit soos lywige uitsmyters voor elke winkel in die sentrum van Tervuren - trots op sy lyf van rolle en voue van maande se lê op die land en wag. Gewigtige geel, oranje en groen pampoene van 50kg, 95 kg, 173 kg. lê uitgerol op die sypaadjies soos amper gestolde fudge op ‘n bakplaat! Dis die jaarlikse pampoenkompetisie in Tervuren!
En so word die pampoene, klein en groot, ook uitgerol op die trappe by die voordeure in die dorp. Spinnerakke en hul swart harige bewoners maak opwagting saam met die grynsende heks en haar besem van Halloween. Sy wil ons saambrou in haar heksepot van hartseer en bitterheid tot ons ook niks meer lewe sien nie en die dood ‘n uitkoms is. Uitnodigings vir Halloweenpartytjies pryk ook op sommige vensters. Snaaks dat ons so graag in ons samelewing saam met hierdie hekse van die dood vlieg en dat hartseer, moord en doodslag ‘n gewigtige prys kry…

Saam met die pampoene blom die helderkleurige krisantbosse op die mark en by die blommewinkel op die hoek – geel, pers, oranje, wit – ‘n najaars-oordadigheid! Die andersins rustige, vrome begraafplaas in die dorp verander skielik in ‘n eiesoortige vertoonvenster van kleurige blomme en potte vol krisantbosse. Die andersins stil straat voor die begraafplaas word skielik bedrywig met besoekers wat kom en gaan en motors wat staanplek soek. Groepies mense staan vir ‘n wyle stil by ‘n graf, muurkassie of die asstrooiweide….. Oud en jonk kom ‘n gestorwe familielid of vriend vir ‘n wyle weer onthou.

Vandag is “Allerheiligen” – ‘n vakansiedag om oor die lewens van heiliges wat ons voorafgegaan het, te besin en hulle te onthou.
Polycarp, ‘n geliefde Kerkvader en ‘n dissipel van die apostel Johannes het op die brandstapel in die Colleseum belei dat hy sy Koning en verlosser nie na 86 jaar kan verraai nie. Na sy dood het menige gelowige jaarliks by sy graf bymekaar gekom om brood te breek en te besin oor sy getuienis. Deur die eeue het herinnering aan Polycarp verskuif na die herinnering aan die martelare van die geloof en in die sewende eeu het die Kerk dit verklaar as ‘n vakansiedag ter herinnering van al die heiliges van die geloof.

So gekyk na die pampoene, krisantbosse en hekse…
Ek dans liewer ‘n kraakpolka in die kleurvolle herfsblare, stuur die heks maan toe sonder ‘n besem, maak lekker warm pampoensop vir die koue winter en skryf ‘n krisantbosbriefie aan elkeen wat my lewe positief beinvloed het en nog steeds beinvloed voordat die finaliteit van die dood kom.
[COLOR="Purple"]Kosbaar Hantam!

Ek geniet die blare so. Kom nou net van die dorp af en het ek soos 'n toeris met 'n kamera van boom tot boom geloop en foto's geneem. Op een plek was ek sommer lus om in die blare te gaan le - die kleure was so ryk en prentjie mooi!

Ja vreemd die ge-halloween vierdery.... gelukkig het ons dorpie dit nie oordoen hierdie jaar nie.

:bunch:[/COLOR]