South Africa Info Forums
Waar pas ons almal in die 'global village' in? - Printable Version

+- South Africa Info Forums (https://globalbuzz-sa.com/forums)
+-- Forum: Your Resources (https://globalbuzz-sa.com/forums/Forum-Your-Resources)
+--- Forum: Praat Afrikaans (https://globalbuzz-sa.com/forums/Forum-Praat-Afrikaans)
+--- Thread: Waar pas ons almal in die 'global village' in? (/Thread-Waar-pas-ons-almal-in-die-global-village-in)



Waar pas ons almal in die 'global village' in? - Pronkertjie - 08-12-2005

Beeld-deurloop: Cecille Cilliers

Het jy al vir Rick ontmoet? vra Frank.

Ek vertrek Saterdag Engeland toe, eet vir oulaas saam met 'n ou vriend in die stad. Mooi restaurant, lekker kos, Frank is bestuurder daar. Ons het sjampanje gedrink ter wille van die vriendskap, en 'n sauvignon blanc uit die Agulhas-omgewing.

Ons het altyd in Kaap Agulhas vakansie gehou, sê ek, en proe die geur van rose in die wyn. Ons eet deursigtige snye rou tuna in 'n komkommeraftreksel, en die fraaiste, soetste Japannese sampioene. En nou vra Frank: Het jy al vir Rick onmoet?

Oorkant my staan 'n jong man met 'n vel die kleur van koffie- sjokolade. Sy hare krul vas op sy kop, maar dis sy oë wat opval: amandelvormig, die irisse blink, bruin-swart albasters tussen dik wimpers. Rick is van Kenia, verduidelik Frank, en hy het die afgelope week sy sjefseksamen hier in ons restaurant afgelê. Daar is 'n lig besitlike klank in sy stem - daar is duidelik rede tot trots om aandeel te hê aan dié aspirant-restaurateur.

Sy ma is van Zanzibar, vertel Rick, maar sy pa is Italiaans, hy's 'n meubelmaker. En hy wys my 'n boek met foto's - stoele, tafels, kiste, produkte van sy pa se ambag. Maar dis meer as ambag, dis kunsskeppinge.

En jy? vra ek, eintlik onnodiglik. Frank het mos gesê hy't sy kokeksamens in hulle kombuis kom aflê.

Hy leer vir sjef, sê hy, is besig met die laaste jaar van sy kursus in die Silwood-kombuis. Ek vra uit na die leerplan. Hy's ongedurig: Ja, hulle leer die basiese dinge, maar na sy smaak is daar te min van restaurantbestuur, van die rol van restaurante in die ekonomie, van kos en kultuur. Sy oë blink, daar's geesdrif vir sy vak. Ek kan plotseling Frank se besitlikheid begryp.

En as jy klaar is? vra ek.

Hy is vol selfvertroue. Daar is heelwat moontlikhede, sê hy. Daar's 'n restaurant in Zanzibar wat in my belang stel, en toeris me is tans groot in Kenia. Maar daar was ook aanbiedinge in Suid-Afrika, en ek sou graag hier wou werk. Kaapstad is 'n wonderlike stad, mens kan gelukkig wees hier, maar dis Johannesburg wat my trek. Daardie opwindende mengsel van kleure en kulture, van Europa en Afrika. Mens sou 'n hele nuwe koskultuur daar kon skep.

Tussen ons op die tafel lê die boek wat ek vir Frank as geskenk gebring het: Going home deur Simä o Kikamba. Kwela het dit uitgegee en dit vertel die ontstellende verhaal van 'n vlugteling uit die Kongo wat hoopvol, maar tevergeefs 'n nuwe lewe in Suid-Afrika probeer maak. Armoede, misdaad en die heersende xenofobiese klimaat stuit hom om elke hoek en draai.

Ek kyk na die mooi jong man en wonder oor sy toekoms. Op die oomblik lê die wêreld blykbaar oop voor hom. Maar hy sal die vooroordeel teen vreemdelinge moet trotseer en veg vir sy plek in die son - soos Kikamba in Hillbrow .

Maar self bly ons ook nie onaangeraak deur vloeibare grense nie. Want waar pas ons, en ek bedoel ons almal, waar pas ons op die ou end in in dié global village wat die wêreld geword het ? Watter taal praat ons, wie se waardes aanvaar ons, watse fusion food eet ons?

Die keuse lê waarskynlik tussen Van Wyk Louw se misbredie en 'n gedeelde, algemene mensheid. Maar dalk is daar geen keuse meer nie. Dalk het dit een en dieselfde ding geword.