'n Monster genaamd snert - Printable Version +- South Africa Info Forums (https://globalbuzz-sa.com/forums) +-- Forum: Your Resources (https://globalbuzz-sa.com/forums/Forum-Your-Resources) +--- Forum: Praat Afrikaans (https://globalbuzz-sa.com/forums/Forum-Praat-Afrikaans) +--- Thread: 'n Monster genaamd snert (/Thread-n-Monster-genaamd-snert) |
'n Monster genaamd snert - Pronkertjie - 04-03-2007 [COLOR="Purple"] Miskien het jy al teen hierdie tyd gelees van die lawaaierige internetdebat wat tussen die BBC en die ANC losgebars het oor ’n kort dokumentêre insetsel wat die Britse uitsaaier oor misdaad in Suid-Afrika gemaak het. Ter agtergrond: Die BBC het op die vooraand van pres. Thabo Mbeki se staatsrede drie weke gelede ’n nuusinsetsel van net minder as 12 minute uitgesaai waarin hul korrespondent John Simpson argumenteer dat misdaad in Suid-Afrika buite beheer is en dat die regering – by name die polisieminister en die president – die probleem ontken eerder as om iets daaraan te doen. Kortom, die soort uitsprake waarmee verreweg die meeste Suid-Afrikaners sal saamstem. Almal behalwe die ANC se tsar van spin, die breedsprakerige Smuts Ngonyama. Getrou aan tradisie speel Ngonyama die raskaart gou die oomblik as hy nie meer enige rasionele reaksie op die BBC se kritiek teen die ANC-regering kan bedink nie. Die BBC is erger rassiste as selfs die mees verregse Suid-Afrikaners, verklaar hy in die party se internet-nuusbrief, ANC Today, en hulle probeer die aandag van Brittanje se eie “ernstige misdaadprobleme†aflei deur op Suid-Afrika te fokus. Volgens Ngonyama sou die SABC op dieselfde verraderlike wyse as die BBC kon toon dat misdaad in Brittanje buite beheer is deur te fokus op spesifieke probleemgebiede, soos die Londense voorstad Brixton. Aangesien die SABC waarskynlik nooit sover gaan kom om ’n program oor misdaad in Londen te maak nie, het ek die afgelope week self ’n paar oproepe na Scotland Yard gemaak en wil graag ’n paar Londense misdaadstatistieke met Ngonyama deel, as hy nie omgee nie. Hy is reg dat Brixton een van die gewelddadigste voorstede van Londen is – in die laaste twee jaar was Lambeth, die munisipaliteit waaronder Brixton val, konstant een van die drie moorddadigste polisiestreke in die Britse hoofstad. Scotland Yard se syfers toon dat 15 van Lambeth se byna 300 000 inwoners die afgelope 12 maande vermoor is. Hoe vergelyk dit met Johannesburg? In die gebied van die Lindense polisiekantoor in Johannesburg, een van die stad se boomryke noordelike buurte, was daar tussen April 2004 en Maart verlede jaar 18 moorde – al verskil die bevolkingsdigtheid (en sosiaal-ekonomiese omstandighede) van Linden en Lambeth soos dag en nag. Die jongste beskikbare syfers toon dat daar in Gauteng gemiddeld elke 2½ uur iemand vermoor word. In die uitgebreide Londen is die syfer een elke twee dae. Dit grief my dat ’n mens hoegenaamd besig is om vergelykings soos hierdie te tref. Ek het my boonop in die verlede nog altyd hiervan probeer onthou – totdat Ngonyama my goeie voorneme met sy onsinnige snert bederf het. Almal weet daar is duisend-en-een redes waarom ’n mens nie die misdaadvlak van Londen en Johannesburg kan of behoort te vergelyk nie. Suid-Afrikaners is realisties genoeg om te weet dat eerste-wêreldse misdaadvlakke heeltemal onrealisties vir hul land is. Al waarna hulle smag, is ’n land wat substansieel veiliger is as die een waarin hulle op die oomblik bly. Een van my gunsteling-tydverdrywe wanneer ek in ’n bus of moltrein sit, is om in my kop ’n lysie te maak van die dinge wat ek die meeste in Londen (en Brittanje) bewonder en waardeer en wat ek die meeste sal mis wanneer ek hier moet weggaan. Engelse koerante, die stad se museums, die parke in die lente en die Britse parlement is boaan my lysie. Maar as jy moet vra wat die één ding is wat ek die graagste saam met my huis toe sou wou neem, is dit die vermoë om vreesloos jou gang te gaan – veral ná donker. Dis eers hier in Londen dat ek ontdek het hoe ongelooflik gedesensitiseer Suid-Afrikaners oor die misdaadvlak in ons land geword het. Wanneer ’n mens laat saans in ’n donker stegie huis toe te loop – en nie in die proses van jou beursie of selfoon beroof word nie – besef jy hoe onnatuurlik vreesbevange Suid-Afrikaners lewe. Hoeveel meer pret en vreugde kan ons uit ons land – en mekaar – put as ons dit kan regkry om dié monster nek om te draai?[/COLOR]Bron: Sondag Rapport |